Sy durf nie skree nie. Sagte kerm geluide wil ontsnap, maar haar vuis smoor dit. Die geswets kom nader. Katie Hartman se brein gee instruksies: haal stadig asem, sit stil. Die grond is klam en koue kruip in haar lyf in. Dit vererger haar bewerasie.                   

Die straatlig kan haar skuilplek verraai, maar sy moet sy gesig sien. Haar donkerblou sweetpak bied goeie kamoeflering. Katie skrik toe sy afkyk. Geluidloos en stadig trek sy haar wit Nikes onder haar sitvlak in.

“Ek weet jy is hier, Poppie.”

Katie se gesig verkreukel en sy knyp haar oë toe. Hy weet sy is vroulik? Wel ja, sy het gegil soos ’n tiener. Dit is dan ook die rede waarom die pes omgeswaai het. Hy is besig op sy foon. Deksels, haar selfoon se klank! Indien daar nou ’n boodskap inkom, is sy geboek vir ’n begrafnisondernemer.

“Kom help. Ek het ’n liggaam, dalk twee.”’

Sy is liggaam nommer twee. Sy moet loer. Stadig draai sy haar kop na links. Gelukkig vloek die dom donkie aanmekaar, dit verklap sy ligging.

Katie ruk haar asem in. Die bose gesig wat teen die straatlig afgeëts word, is dié van Rolf, ’n kollega van haar broer! Sy het nog nooit van die windbol met sy verbleikte stokkieshare gehou nie. Hy oordonder enige gesprek en sy arrogansie drup soos boomgom van hom af. Sal enige iemand glo dat hy die moordenaar is?

Dit het vroeër sag begin reën en druppels tik-tik op die bos waar sy skuil. 'n Paar blaartjies giet oortollige reënwater op haar uit. Haar klere raak deurweek, so ook haar lang bruin hare wat yskoud teen haar kopvel kleef.

Die donker stem kom weer nader, hierdie keer vanuit die plantegroei om haar.

Behou posisie, waarsku sy haar vibrerende liggaam. Hemel, sy is net agtien; so pas matriek geskryf. Sy wil nie nou doodgaan nie. Sy wil ook nie meer ? grootmens word nie. Sy wil veilig by haar boet wees.

Dit word lig. Rolf sal die liggaam moet verwyder voor die inwoners begin uitbeweeg. 'n Voertuig kom nader. Takke kraak en Rolf roep sy mater. “Hierdie kant toe. Iemand het my gesien, maar ek kry nie die feeks nie.”

Katie knyp haar oë toe asof dit haar beter sal laat hoor. Dit reën nie meer nie, wat help met die klank.

“Hoe lank terug?” vra die ander gomtor.

“Veertig minute, dit was nog donker.”

“Dan het sy nie jou gesig gesien nie,” antwoord Gomtor kortaf. “Kry jou flerrie. Ons moet verkas. Vygiestraat is gewild onder stappers en hardlopers.” Na ? rukkie se stilte vervolg die helper geïrriteerd: “Hel ou, ek het jou al gevra: as jy wil verkrag, sit 'n blerrie balaklawa op en laat spaander. Ek gaan nie meer jou liggame karwy en myself aan vervolging blootstel nie. Hierdie is die laaste keer.”

Die bliksem! Hierdie gebeur dus gereeld. Rolf, 'n polisieman? Katie seil stadig op haar maag onder die bos uit, haar selfoon nou op sag gestel. Steeds verskuil agter takke, neem sy 'n foto van die voertuig en een waar hulle die liggaam in die bagasiebak gooi. Sy stuur 'n boodskap na haar broer.

 

“Magtig, Katie! In die donker? Jy soek moeilikheid.”

“Hou op baklei.” Sy is doodmoeg en die verligting om veilig by hom te wees, laat die trane rol. “Ek het 'n moordsaak opgelos nog voor daar 'n saak is,” stamel sy. Die koue laat haar lyf steeds ritsel.

Armand sit sy arms vertroostend om haar. “Dis net… jy kon ook nou in 'n bagasiebak gelê het. Die blerrie Rolf. Ek gaan dit geniet om sy verwaande nek te knak.”

“Sal hy nog steeds vir my kom?” Sy hou haar broer dop terwyl sy haar gesig met 'n nat mou afvee.

“Dis ’n gegewe. Ons gaan klere pak en vanaand in 'n hotel slaap totdat ek en Kaptein alles deurdink het. Indien Rolf agterkom dat ek die saak gerapporteer het, mag hy dalk jou betrokkenheid ondersoek. Hy’s nie onnosel nie.”

“Kan jy jou kaptein vertrou?”

“Definitief. Ons sal jou beskerm, maar jy moet saamwerk en met niemand kontak maak nie. Nie ? vriendin of sosiale media nie. Ook nie met Derik nie.”

“Hoekom nie?” wil sy verontwaardig weet. “Ek kan hom vertrou.”

“Rolf kan Derik volg om by jou uit te kom. Luister na my, asseblief. Sit jou foon heeltemal af. Ek sal langs die pad 'n ander een kry sodat ons twee kontak kan behou.”

“Ek en Derik het baie planne gemaak vir die vakansie. Ek moet iets vir hom sê. Dalk dat ek saam met 'n niggie op 'n staptog is?”

Armand knik. Katie plof 'n dankbare sug uit.

 

Katie slinger die boek na die ingeboude kas in die hotelkamer. Sy het 'n TV-program probeer volg, tydskrifte deurgeblaai, haar sosiale netwerk se doen en late bekyk, maar niks kan haar aandag vasvang nie. Die gepleit van die meisie wat probeer ontsnap tril steeds in haar oordrom. Die vrees in haar eie lyf sit nog vas. Nie eers die lang, warm bad kon haar laat ontspan nie.

Sy verlang na Derik, die lang, maer man met 'n hart van goud. Hy sou haar nou kon troos en vashou terwyl  haar vingers sy netjiese blondekop verinneweer.

Die sagte klop ruk haar spiere paraat. Sy storm deur toe. Net Armand is sigbaar deur die loergaatjie. “Jy, broer?” Hulle het 'n kodewoord afgespreek indien daar gevaar is.

“Jy kan oopmaak.”

Armand sluit die deur agter hom.

“Is jou foon af? Het jy klaar met Derik gepraat?”

Katie knik en ruil haar foon vir die nuwe een.

“My nommer is gestoor onder Karel.”

“Die nommerplaat op die foto het gehelp om ene Peter Tas in hegtenis te neem. Hy weier om Rolf se identiteit bekend te maak. Die gebleikte Rolf is senuweeagtig en hy steek sy neus oral in. Hy was ontstoke toe Kaptein nie die bron van die bewysstukke bekend wou maak nie. Indien jy bereid is om hom uit te ken, sal Kaptein hom vra om in die lyn vir uitkenning te staan, asof ons nog een gesig benodig.”

“Hy beter my nie sien nie.”

“Hy sal nie.”

Armand trek verskeie swart stukke materiaal nader. Katie frons.

“Jy kan hierdie Moslempakkie dra. Met 'n sonbril sal jy nie herkenbaar wees nie.”

Katie grinnik. “Dis effe... ekstreem.” Dis tipies Armand; oorbeskermd sedert hul ouers se afsterwe.

“Dit is nie. ’n Vent soos Rolf sal vertrouelinge onder die blou baadjies hê. Kaptein sal jou in sý voertuig van 'n sekere punt af by my oorneem en na die tyd via verskillende veiligheid stoppe aan my oorhandig.”

“Laat ek net huis toe gaan, asseblief. Alleen in 'n beknopte vreemde plek is... ek raak van my kop af!”

Armand draai skeef op die bed en vat haar hand. “Rolf is desperaat, Sus. Hy sal enige iets doen om die getuie in die hande te kry. Hy sal enige van ons elimineer om sy bas te red.”

Sy kry die pleitende oë voor haar jammer. Nadat haar ouers in die vliegongeluk oorlede is, het hy haar op dieselfde wyse onder sy vlerk geneem en getroos; oor en oor wanneer sy so hartseer was.

 

Armand leun stomend teen die muur van die gemeubileerde tweeslaapkamerwoonstel.

“Hierdie is tonne beter as die hotel. Dankie vir die skuif. Wat stoom jy so?”

“Ek het drie blokke weg in 'n stegie stilgehou, ingeval iemand my agtervolg. En trappe geklim. Belangrike vraag: het jy weer met Derik kontak gemaak?”

Katie frons geïrriteerd. “Nee!”

“Derik is Rolf Botha se stiefbroer. Het hy nooit uitgebrei oor sy familie nie?”

Die koolsuurgas is geblokkeer en naarheid bou in haar derms op. Derik? Haar Derik is daardie monster se broer? Haar sagte, ordentlike Derik?

“Derik se van is dan Marx.” Haar keel kry seer toe sy praat.

“Verskillende pa’s, neem ek aan,” troos Armand.

“Ek kan dit nie glo nie!” Sy skree die skokgolf uit. “Die rot! Ek het hom nou so nodig.” Katie skud haar kop en vervolg in ? piepstem: “Hy het vertel van hul saamgestelde familie, maar nie gesê Rolf is in die polisie nie. Hoekom het hy nie? Hy het geweet jy is daar.”

Hulle kyk fronsend na mekaar totdat Armand se gesigsuitdrukking ontspan.

“Jy, dapper stapper, het 'n groot miernes oopgekrap. Pa sou trots op jou gewees het.”

“Watse miernes? Is Derik betrokke?”

“Ons weet nog nie. Rolf se trawant het vandag ? nagtegaal-oomblik gehad toe ons dreig dat hy saam vir moord gaan sit. Hy het ons selfs na die lyk geneem. Rolf se koeël word gekoppel aan 'n hele paar verkragtings en moorde die afgelope vier maande. Hy spoeg en swets oor sy maatjie se verraad. Nietemin, Derik het by sy broer in aanhouding kom kuier en my oor jou uitgevra.”

“Laat hy in ’n meerkatgat klim. Hy moet wegbly van my af. Wanneer kan ek ophou wegkruipertjie speel?”

“Die saak word gebou, Katie. Dit gaan nou nie net oor hierdie moord nie. Die staatsaanklaer wil die hele kaboedel saam hanteer om seker te maak dat mister Arrogant vasgeplak bly in sy tronk stoel.”

“Die dag wanneer hy uitkom… moet ek weer in 'n Moslem verander? My lewe is geruïneer!” Sy spring op en stap heen en weer. Armand maak sy arms oop sodat sy in sy beskerming kan vasloop. Hy is nie lank soos Derik nie, maar haar ouboet is 'n aantreklike gorilla wat haar klein postuur toevou sodat niemand naby kan kom nie.

“Dit is hoekom ons hom lewenslank daar wil hou. Jy is in 'n slegte posisie, ek weet, maar probeer net vasbyt.”

 

Twee maande later stap Katie, met die volle Moslemdrag en ’n sonbril, die hofgebou binne. Derik sal in die hofsaal wees, daarom is toestemming by die regter verkry om haar stem te verbloem deur middel van 'n stem modulator in haar mikrofoon. Haar mond is droog en alhoewel dit somer is, is haar lyf yskoud. Die lang rok se soom bly aan die pienk sandale se gespe vashaak. Sy moes eerder toe skoene aangetrek het.

Waarheen vat die twee konstabels haar? Hierdie roete is nie dieselfde as wat Armand verduidelik het nie. Katie kyk om met die hoop dat haar broer hulle volg.

Rits-girts geluide weerskante van haar kop verlam haar van skrik. Haar bewakers val sekondes na mekaar rukkend op die vloer neer. 'n Stewige hand sluit oor haar mond en pluk haar lyf regs in 'n gang af en in 'n leë vertrek in. Katie se elmboog tref hom kolskoot, genoeg om sy hand van haar mond te kry. Haar gil weergalm vir ? sekonde, maar die ferm hand klap haar mond weer toe.

“Bly stil!” Hy slaan die deur agter hulle toe.

Dis Derik. Nee! Gaan hy haar namens sy broer afransel? Sy trek haar kake oop en byt sy vinger so hard sy kan.

“Katie, stop dit.”

Haar donkerbril land op die grond. Sy hou nie op wriemel en skop nie. Derik se greep verstewig, selfs sy ken op haar voorkop dwing haar kop terug. Sy het vergeet hoe groot hy is.

“Ek red jou, dêmmit. Ek sal my hand wegvat, maar moenie skree nie.”

Sy knik, maar toe hy sy greep effens verslap, trek sy haar longe vol. Voor die gil 'n behoorlike hoogte kan tref, smoor hy haar.

“Hou nou op! Hoekom vertrou jy my nie?”

“Jy is Rolf se broer,” fluister sy toe hy sy hand effens lig. “Jy kan sy pion wees om my dood te maak.”

“Glo jy regtig ek is tot so iets in staat? Dêmmit, Katie, regtig?”

Katie se stilswye laat hom sug. “Rolf het van sy skiewies in plek om jou te onderskep voor jy getuig. Iemand het vir hom gesê dis 'n Moslem meisie. Ek sal nie toelaat dat hy jóú lewe ook neem nie.”

“Hoe weet ek jy praat die waarheid?” Sy ander hand beweeg teen haar rug.

“Hier is my selfoon. Bel jou broer. Ek gaan my hand wegvat. As jy gil en Rolf se trolle gryp jou, is dit jou eie skuld.”

Katie ignoreer sy foon en krap haar eie foon onder die lang rok uit. Haar hande ruk. “Asseblief, moenie my seermaak nie.”

“Kry jou broer voor die ander spul ons uitsnuffel.”

Sy babbel oorhaastig toe Armand antwoord: “Kom kry my. Die konstabels wou my ontvoer.”

“Waar’s jy?” skree hy.

Katie soek hulp by Derik. Hy maak die deur oop en wys na die nommer op die deur.

 

Na die oproep druk Derik haar agter die deur in. Hy staan teen die oorkantste muur. Hulle behou oogkontak. Armand storm soos ’n orkaan op Derik af.

“Jou vuilgoed! Waar is Katie?”

“Hier’s ek,” kerm sy van agter die deur. Met sy vuurwapen op Derik gerig, skuif hy agteruit om haar te beskerm. “Hy het my gered van jou blou soldaatjies.”

Armand snork deur sy neus. “Sê wie?”

“Hy het sy foon aangebied om jou te bel.”

“Wat soek julle hierdie kant van die gebou?” vra hy vir Derik.

“Gaan vra jou konstabeltjies hier buite,” daag Derik hom uit. “My broer wil die getuie elimineer voor die hofsaak. Ek het Katie se skoene onder die swart rok herken en besef hulle is op pad na 'n verkeerde vleuel.”

Katie kan haar oë nie van Derik afhou terwyl Armand, steeds versigtig, vir versterkings bel nie. Sy stap nader aan Derik. “Ek is jammer ek het gejok.”

Armand hou haar terug tot langs hom. Derik lig 'n wenkbrou.

“Ek verstaan dit, ook dat julle my wantrou. Ek is jammer my stiefbroer is 'n flippen fossiel.”

Katie lag sag. Derik se uit-die-bloute sêgoed doen haar goed. Hy moet so gou moontlik weer terug klim in haar lewe in. Haar glimlag verdwyn. Dis te sê, as hy onskuldig is.

“Daar’s nie tyd vir grappies nie,” brom Armand. “Katie se lewe is steeds in gevaar. Die kamtige bewaarders het ons manne uitgeskakel en kan nog hier ronddwaal. Jy moet in die hof kom, Sus. Waar is jou donkerbril?”

Derik tel die bril op. “Hy is nog heel.” Sy hand rus vlugtig op haar bo-arm. “Ek’s lief vir jou, Moslem-meisie. Bel my sodra julle gerus voel oor my.”

 

Katie wikkel vinnig om die voordeur oop te maak.

“Drie weke was te lank,” kla sy in Derik se arms.

“Vir my part kon hulle Rolf na dag een al gevonnis het, dan was ek gouer by jou.”

Katie kruip onder sy skouer in. “Dit was sleg, maar na dag een sou hy net vir een moord gesit het. Nou is hy vasgeketting in sy eie klooster met dertien lewenslange vonnisse agter sy naam.”

“Ek hoop daardie swart gewaad is in ’n asblik.”

“Nooit! Ek sal dit hou, ingeval ek wéér vir ’n skurk moet wegkruip.”

Derik antwoord nie dadelik nie. Die frons trek diep gleuwe en hy krap sy keel skoon. “Mm. Volgende keer is ek in beheer.”

Katie se bloed stol. Wat beteken dit?

 

DIE EINDE

Terug Terug na bo