Hoe begin ’n mens nou eintlik om ’n storie te skryf?
Ek kry dikwels dié vraag: “Waar begin jy as jy aan ’n storie werk?”
Daar is nie net één regte antwoord nie. Elke skrywer het sy eie invalshoek. Party spring sommer reguit in en maak later seker al die fasette is daar. Ander beplan deeglik.
Ek kan darem deel hoe dit vir my werk. Ek hou van deeglike beplanning, maar los ook plek vir verrassings onderweg.
Begin met ’n vae storielyn of idee
Heel vaagweg begin ek dink aan ’n storielyn. Net iets klein—’n idee, ’n emosie, of sommer net ’n toneel wat in my kop bly vassteek. Dit hoef glad nie volledig uitgewerk te wees nie.
Vir my gaan dit oor daardie eerste vonkie. Die vonkie is ook nie konstant nie. Ek was al besig met ’n boek, dan spring ’n gedagte in my kop vir ’n volgende storie (soos Filtervlinder). Ek het al ’n nagmerrie gehad wat net in vyf sinne inpas (Ontfrommel), wat uiteindelik net een hoofstuk in die voltooide boek was, maar ek het ’n storie daarrondom gebou.
Beplan die plot en konflik
Ek maak sommer rowwe notas:
-
Die protagonis (hoofkarakter) is ’n mens met foute. Leser moet hom jammer kry en vir hom omgee.
-
Wat wil die hoofkarakter hê?
-
Wat staan in sy pad (hindernisse)?
Ek skep insidente en draaipunte wat die karakter se begeertes verhoed, wat konflik skep. Sonder konflik is daar nie spanning nie, en sonder spanning word die leser nie vasgegryp nie.
Belangrik: Die karakter moet groei ná elke insident, aanpas en verander. Ek wys daardie transformasie teen die einde.
Ontwikkel die karakters
Ek skep unieke karakters: persoonlikheid, voorkoms, wat hulle wil hê, geheime, swakplekke, optrede in spanning, familie, voertuig, omgewing, agtergrond—alles soos by ’n gewone mens. Ek gebruik nie altyd al die inligting in die storie nie, maar ek ken my karakter.
Sekondêre karakters werk ek net sover uit as wat nodig is. Ek wil hulle funksie verstaan, maar ek hoef nie noodwendig te weet wat hulle gunsteling-roomysgeur is nie.
Belangrik: Ek dink ook aan hoe karakters met mekaar skuur of kliek. Dit dra by tot natuurlike konflik en aantrekkingskrag of vriendskap.
Bou jou wêreld en atmosfeer
Waar speel my storie af? Stad of plaas? Hede of verlede? Ek dink ook aan die gevoel of toon van die storie: lig en humoristies, of donker en ernstig?
Skryf ’n sterk inleiding
Die leser moet dadelik vasgevang word. Dis nie altyd maklik nie, en ek herskryf gewoonlik daardie eerste paragrawe ’n paar keer.
Byvoorbeeld, in Klippe kan Kraak is die eerste sin: “Hy moes nog in die tronk gewees het." en “Sy kruip agter die winkelrak weg.”
Hoekom? Die leser moet wil aanhou lees om uit te vind.
Visualiseer jou einde
Hierdie broei deurentyd in my kop: hoe wil ek die storie afsluit? Ek het al ’n idee, maar die storielyn moet so vorder dat die leser tot op die laaste oomblik wonder.
Ek vra myself: Wat moet die leser voel wanneer hulle die laaste bladsy lees?
Kies vertelstem en perspektief
Ek kies of ek in ek-persoon of hy/sy-persoon wil skryf, en of dit in teenwoordige of verlede tyd is.
Uit watter karakter se perspektief vind die gebeure plaas? Een karakter, of twee? Verskillende perspektiewe kan nie in dieselfde toneel meng nie. Ek kies gewoonlik een hoofstuk of toneel per karakter.
Hierdie besluite beïnvloed die hele gevoel van die storie. Ek besluit hieroor voordat ek losbrand.
Doen navorsing
As ek oor iets skryf wat ek nie self kennis van dra nie—’n beroep, plek of sport—gaan delf ek. Fiksie of nie, dit moet geloofwaardige gebeure of handelinge wees.
Ek begin by AI of Google, maar toets my navorsing dan met ’n regte mens in daardie beroep of veld.
Byvoorbeeld:
-
Klippe kan Kraak — ’n korrektiewe toesig-beampte het my gehelp, met hoe dinge in Suid-Afrika werk.
-
Kersfees Kans — ’n prokureur het my gehelp met werklike feite soos dit in die Suid-Afrikaanse regstelsel werk.
-
Ryk Armgat — Ek kon uit my eie ervaring skryf, want ek het vier jaar in Mosambiek gewoon.
En dan... begin ek skryf!
Die belangrikste: ek probeer nie alles perfek hê voor ek begin skryf nie. Daardie eerste weergawe is altyd rou en deurmekaar. Dis eers wanneer jy woorde op papier sit, dat die storie regtig begin lewe kry—en jou karakters kry soms streke wat jy glad nie voorsien het nie!
Jou beurt
Hoe begin jy jou stories? Ek hoor graag van jou. Of jy nou beginner of ervare skrywer is, almal se proses lyk bietjie anders.
| Terug | Terug na bo |