Zinèt Oosthuizen
’n Skrywer wat die ink maar kan laat vloei, want haar boeke se posisie op die Afrikaanse e-boek beste verkopers (Amazon) wys dat sy gelees word. Vroeër vandag was vyf van Zinèt se boeke onder die top 50 beste verkopers.
Zinèt is een van my skrywersvriendinne wat ek nog nooit van aangesig tot aangesig gesien het nie. Ons gesels op Whatsapp en deel in mekaar se skryf-vreugdes en ja ... teleurstellende dae. Daarvan is daar baie in ’n skrywer se lewe, vra hulle gerus. Maar ons is taai, staan weer op en maak die volgende plan.
Zinèt het op 'n jong ouderdom die betowerende wêreld van verhale ontdek. Saam met haar passie vir lees en skryf het, bestee sy die meeste van haar tyd aan finansiële bestuur. In haar vrye tyd geniet sy die eenvoudige dinge van die lewe, en wanneer sy saam met haar familie 'n welverdiende vakansie neem, is daar altyd 'n paar romantiese liefdesverhale versteek in haar tas.
“Lees en skryf laat my toe om te ontsnap van die haastige wêreld daarbuite, en ek vind vreugde daarin om deur die bladsye van verhale te dwaal.”
Haar eerste twee boeke is tien jaar gelede onder die skuilnaam Luné Olivier gepubliseer. Daarna het sy op haar gesin gefokus.
“Eers in 2021 het ek weer aktief begin skryf. Ek het vinniger geskryf as wat die publikasie-prosesse kon byhou en het middel 2024 besluit om self my drome te laat realiseer.”
Sedertdien het sy sewe boeke in eie reg uitgegee en ek glo daar is nog 'n oorvloed stories in haar hart en siel wat wag om vertel te word.
Hierdie vrou beskik oor 'n honneursgraad in Rekeningkunde en is 'n gekwalifiseerde onderwyseres. Sy het nog nooit formele opleiding in kreatiewe skryfwerk ontvang nie — haar stories kom dikwels uit drome, hoewel sy haarself nie as 'n groot dromer beskou nie. Sy werk voltyds en probeer soveel moontlik tyd saam met haar gesin deurbring.
“Ek is 'n opregte romantikus en skryf met my hele hart.”
Hier is meer inligting oor haar Sterre-reeks:
Daar is nie veel dinge wat 'n bedorwe brokkie, aktrise en film regisseuse in gemeen het nie, behalwe natuurlik aantreklike mans, 'n perdeplaas en romanse onder die sterreruim.
Volg die interessante liefdesverhale van hierdie drie dinamiese vrouens in hierdie lekkerlees-reeks.
- Wanneer sterre vonkel: Bedorwe ryksmankind Celine besluit om haarself te gaan ‘vind’ in 'n kuslangse karavaanoord in 'n luukse RV, waar sy die bombastiese veearts Franco as buurman het.
- Wanneer sterre wink: Die welberoemde aktrise Ferri-Lynn raak smoorverlief op 'n plat-op-die-aarde, anti-sosiale media, perdeplaasboer Jason, maar staan dan voor moeilike besluite.
- Wanneer sterre fluister: Regisseuse Tasha, ook bekend as die Wintervrou, se wêreld word omgekeer toe Ockert, die einste rede vir haar koue naam, weer op die toneel verskyn.
Hierdie en al Zinèt se ander boeke is beskikbaar op hierdie AMAZON skakel.
Kuier ook saam met Zinèt op FACEBOOK.
Dit is 'n voorreg om ietsie meer van jou te kon leer, Zinèt. Ek wens vir jou die mooiste toe met jou skrywerk, en nog baie romanses uit jou pen.
Terug | Terug na bo |