Nicole Ann Nielsen

As jy al ooit gewonder het hoe dit voel om in die teenwoordigheid van lig te wees, moet jy ’n paar minute in Nicole se geselskap deurbring. Altyd ‘n sagte glimlag. In ’n groot groep sit sy rustig en luister. Maar tussen mense waar sy tuis voel, vloei die gesels soos ’n perfekte openingshoofstuk.

 

Nicole skryf stomerige kontemporêre romanse wat die hart warm maak, hoop laat groei, en jou soms laat wonder of jy nie dalk ’n cowboy in Texas moet gaan soek nie.

“Ek skryf hoofsaaklik in Engels en het onlangs my sesde boek in die Texas Solace-reeks voltooi — ’n reeks oor ’n cowboyfamilie, die tragedie wat hulle almal op een of ander manier geraak het, en hoe die Lawson-egpaar se kinders, een vir een, hul pad na liefde vind.”

 Nicole woon in die baie winderige Vishoek. “Elke windstil dag is ’n wonderwerk en ek en Miss Daisy (my bejaarde hond) kies dan koers strand toe.”

 

Waar het haar skryfloopbaan begin?

Toe haar man in Ghana gewerk het, het ’n storie wat al jare in haar kop vassit, begin klop om oopgemaak te word. Sy het ’n dokument oopgemaak en begin skryf. Drie jaar later is haar eerste boek, Murmur of Love, op Amazon gepubliseer (Ek het hom gelees - kan dit definitief aanbeveel).

Vandag — net ses jaar later — het sy nege Engelse boeke én ’n Afrikaanse een agter haar naam.

 

Jy het besluit om jou boek te vertaal. Wat het jou geïnspireer?

“Dit was jy!”

Huh?

“Wel…” sê sy met ‘n glimlag. “Jy het die eerste saadjie geplant. Iets gesê en ek het gedink: Hoekom nie? Dit klink lekker! Maar (want daar is altyd ’n maar) — die werklikheid het vinnig ingeskop. Ek het dekades laas Afrikaans gebruik, wat nog te sê van… jy weet… warm tonele in Afrikaans skryf?”

Nicole het Romanza Stoom boeke begin lees om te loer hoe ander skrywers intieme tonele verwoord. “Die lees van die boeke het my opgewonde gemaak. Ek het heeltemal vergeet hoeveel plesier ek uit die Afrikaanse taal put.”

Met die hulp van ’n knap redigeerder en proefleser het Darla se Kersridder uiteindelik sy blink nuwe Afrikaanse baadjie gekry — perfek vir Kersfees, blink liggies, en tweede kanse.

 

En volgende jaar?
“Ek wil graag nóg vertaal. En miskien… miskien… waag ek ’n heeltemal nuwe Afrikaanse boek.”
(Ja, dis die deel waar lesers se harte ’n bietjie harder begin klop.)

 

Nicole het in Klerksdorp grootgeword – in Afrikaans. Na skool is sy Johannesburg toe, gelukkig getroud met pure Engelsman, en dinge verander.
Werk in Engels. Kerk in Engels. Kollegas in Engels. Lewe in Engels.

En Afrikaans?

“Wel, dit het stadig begin vervaag soos ou ink op ’n brief. Tot ek met Darla se Kersridder se vertaling begin het. Toe is Afrikaans terug — vinnig! Ek moet myself keer om nie met my man Afrikaans te praat nie. Ek dink weer in Afrikaans. Ek het nog nie weer in Afrikaans begin droom nie … maar wie weet?”

 

Nicole het eers op 54 begin skryf. Nie 24 nie. Nie 34. Vier-en-vyftig.

Wat leer ons hieruit?

Dat dit nooit te laat is om jou droom te begin leef nie.

Nicole se verhaal moet jou laat regop sit en dink: “Wel, miskien kan ek ook my droom begin… môre. Of vanaand. Of nou.”

 

En nou die boek self: Darla se Kersridder

Hy het voorheen haar hart gebreek met die gevreesde woorde: “Dis nie jy nie, dis ek.” Nou bied hy aan om die pa van haar baba te wees. Durf sy hom weer vertrou?
Darla Miller se biologiese klok tik genadeloos, en haar droom om ’n baba te hê verkrummel toe die man wat sy as die pa gekies het, verlief raak op iemand anders. Gebroke berus sy haar by ’n lewe sonder kinders.
Totdat Bobby Bell weer in haar lewe verskyn.
Hy het in die verlede plig bo liefde gekies en van haar af weggestap, maar nou sien hy ’n manier om ? tweede kans met Darla te probeer. Maar dit blyk gou dat hul ooreenkoms om ’n kind saam groot te maak, nie genoeg is nie.
Hy wil álles hê. Veral haar liefde.
Met Kersfees om die draai, het Bobby vier-en-twintig dae om haar hart terug te wen. Sal dit genoeg tyd wees om die letsels van die verlede te genees?

 

Maak kontak met Nicole en haar boeke op hierdie platforms:

Koop: https://www.amazon.com/Darla-Kersridder-Tweede-kans-Kersverhaal-Afrikaans-ebook/dp/B0FTXFL99N

FB: https://www.facebook.com/nicoleann.nielsen

Insta: https://www.instagram.com/authornicoleannnielsen/

TikTok: https://www.tiktok.com/@authornicoleannnielsen

 

Terug Terug na bo