Tosca de Villiers
Elke kuier met die skrywers-vriendin bevestig weer hoe maklik ons gesprekke kan vloei en hoe ek Tosca se geselskap geniet. Onderwerpe raak nooit op nie. Ons gesels familie,
skryf, avonture en lees. Sy kon selfs raad gee oor lang, alleen ritte. Al verskil tussen ons? Madame Z is aan haar sy.
Tosca de Villiers is 'n gebore Vrystater. Nadat sy 'n B.com graad en HOD aan die Vrystaatse Universiteit behaal het, hou sy vir 'n paar jaar skool voordat sy haar vlerke sprei en by die Departement van Handel en Nywerheid se parlementêre span aansluit.
“Die Kaap is wonderlik, maar ek raak toe smoorverlief op Pretoria en vestig my daar tussen die jakarandabome.”
In 2025 verkoop sy na vyf-en-dertig gelukkige jare haar woonstel in Sunnyside en trek terug Bloemfontein toe. Nou is sy weer 'n volbloed Vrystater en kan haar in die warmhartige mense, sonsondergange en grasvlaktes verlustig.
“Ek vind my vreugde in my tuin, kosmaak, foto’s neem en om te reis. En natuurlik lees!”
Die lekkerte vir haar is om die groente en kruie uit haar tuin in haar disse te gebruik, dit af te neem en op sosiale media te deel. Sy reis soms lang pad of net na Bultfontein waar haar bejaarde moeder woon. Mooi natuurfoto’s, blomme in 'n houer in haar huis – is wat haar Facebook vriende saam geniet.
Saam met die sagte deel van haar, is sy ‘n vaardige slak-vermorselaar! “Ek hou nie daarvan om gif in die tuin te gebruik nie, maar kan dit nie verdra as slakke aan my plante knibbel nie. Ek jag snags slakke as ander mense slaap!”
Mmm. Misdaadfiksie, Tosca?
Moet ook nie dink sy skryf al haar stories nie. Die nimlike madame Z, alias Kietiekat, spin die stories. Tosca vertaal dit in Afrikaans.
Sonder madame Z se hulp, is sy baie betrokke by die stigting van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging en dien as ondervoorsitter op die bestuur. Tosca is ook lid van ROSA (Romance Writers of Southern Africa) en 'n lid van PEN Afrikaans.
Skryfwêreld
Tosca het al 5 romanzas deur Lapa uitgegee en 2 boeke selfgepubliseer. Drie boeke is in Engels vertaal en op Amazon beskikbaar.
“My krimi, Dwaalspoor, is oor die jare my beste verkoper en dit is slegs as e-boek beskikbaar. Dan het ek al amper 30 kortverhale in tydskrifte gepubliseer en 'n hele paar artikels.”
Haar grootste uitdaging is om twyfel te oorkom. Jy twyfel gedurig terwyl jy skryf of jy op die regte pad is, gaan die lesers van die boek hou, gaan die boek goed verkoop? “En natuurlik om te sit en skryf, elke dag.”
“Ek werk op die oomblik aan 'n Romanza met 'n effense speur / misdaad kinkel. Ek hoop om dit een van die dae aan die uitgewers voor te lê.”
Onlangse publikasie: Dubbelspel vir Haar Hart
Elandi vlug na Roodezand om weg te kom van die skindertonge wat haar lewe verwoes het. In haar nuwe pos fokus sy op haar Wiskunde-onderrig en om geld in te samel vir die matriekafskeid. Sy wil nie weer ’n man in haar lewe hê nie, maar Hendrik de Bruyn en dominee Neels stel belang.
Hendrik wil dalk weer liefde ’n kans gee, en Neels soek ’n vrou wat orrel kan speel. Wie gaan haar hart wen?
Wat het jou geïnspireer met die skryf van die boek
“Ek het vir jare baie gereeld tussen Bloemfontein en Pretoria gery. Eendag ry my niggie saam tot by die lughawe. Sy het by haar ouers in Suid-Afrika kom kuier.” Sy noem hoe ongeskik die predikant die vorige Sondag met haar Ouma was. Brei toe verder uit oor hoekom hulle destyds uit Suid-Afrika weg is; oor skinderstories wat haar man se loopbaan in Suid-Afrika vernietig het. Sy mymer oor die moontlikheid om terug te kom na Suid-Afrika.
Dit was die vonk vir my storie. Daarna het ek my ore oopgehou as mense gesels en ek het uitgevra oor plattelandse dinge. Omdat ek self 'n wiskunde onderwyser op die platteland was, het ek baie eerstehandse ondervinding wat ek kon gebruik. Alhoewel ek ook fiktiewe versinsels ingewerk het in my boek, probeer ek altyd 'n geloofwaardige storie skryf.
E-boek op Amazon: https://bit.ly/4k11QhP
Sagteband by Lapa: https://loom.ly/XORgCNU
Ek het al ‘n paar van jou boeke gelees, Tosca, en jou hart daarin gevind. Ek is so bly ons kan dit vandag met ander ook deel. Dwaalspoor was een van my gunstelinge. Ek sien uit om Dubbelspel ook te lees.
Sterkte met daardie uitdagings. Jy verwoord eintlik dit namens ‘n klomp mede-skrywers wat dieselfde beleef. Ek sien uit na jou nuwe speur-misdaad publikasie.
Dankie dat ons weer saam kon kuier, al was ons voete die keer nie onder dieselfde tafel nie!
| Terug | Terug na bo |