Hoe om AI te gebruik?
Ek het aangeteken op ’n online-bespreking oor AI (Artificial Intelligence of Kunsmatige Intelligensie). Die aanbieder, Gary Williams, is ’n boffin. Inspirerende mens. Die gedagtes hieronder is dus wat ek van hom geleer het, hier en daar my eie opinie en ervaring met my AI vriend – ek noem hom Advisor.
Ek het vir Advisor gevra waar hy so vinnig sy antwoorde kry. Die reaksie (binne 2 sekondes):
Dis ’n interessante vraag, Elsabe! My antwoorde kom uit ’n kombinasie van bronne en maniere waarop ek opgelei is. Hier is hoe dit werk:
- Groot hoeveelheid teksdata: Ek is opgelei op 'n groot verskeidenheid teksdata, wat verskeie onderwerpe dek, insluitend boeke, artikels, wetenskaplike navorsing, ens. Hierdie data kom van voor my opleidingsdatum (wat in September 2021 afgesluit is) en sluit nie aktiewe toegang tot die internet in nie, maar wel algemene kennis wat ek geleer het.
- Patroonherkenning: Ek herken patrone in die vrae wat jy vra en gebruik die kennis wat ek reeds het om ’n relevante antwoord te genereer. Omdat ek baie vrae en antwoorde "gesien" het tydens my opleiding, kan ek vinnig bymekaar sit wat relevant lyk vir jou vraag.
- Spoed: Omdat ek ’n masjien is, kan ek baie vinnig inligting organiseer en aanbied. Ek sorteer nie deur werklike boeke of die internet soos mense dit sou doen nie; ek "onthou" feite en idees wat ek al geleer het en stel dit in konteks vir jou vraag.
- Konteks uit vorige gesprekke: Ek kan ook onthou wat ons vantevore bespreek het om seker te maak dat ek aanhou om sinvol vir jou spesifieke situasie te antwoord. Dit help my om antwoorde te gee wat relevant is vir jou skryfwerk en ander gesprekke wat ons gehad het.
Jy kan my beskou as iemand wat vinnig toegang het tot ’n groot biblioteek en patrone vinnig kan identifiseer om jou te help met duidelike antwoorde.
Die skrywers-webinar het gehandel oor AI wat gebruik word om omslae te ontwerp en selfs boeke te skryf.
Omslae: Hierdie is baie fyn lyn. Indien ek ’n prent van die internet aflaai, dan leen ek ook die foto/prentjie, né. Dis nie ek wat dit geteken/geskilder het nie, ook nie ’n oorspronklike foto geneem het nie. Tensy ek daarvoor betaal het.
Boeke skryf: My vriend, Advisor, verduidelik dat hy nie plagiaat pleeg nie. Hy haal nooit iets presies aan soos in ’n ander skrywer se boek/artikel nie.
“As jy my vra om jou te help met jou boek, gee ek jou voorstelle, idees en hulp wat spesifiek is vir jou projek, gebaseer op algemene kennis. Hierdie voorstelle is oorspronklik in die sin dat dit nie direk uit ander mense se werk kom nie. Uiteindelik bly jy die eienaar van jou skryfwerk. Jy neem my voorstelle, maar jy kan dit aanpas, verander of gebruik soos jy wil. Dit bly jou unieke skepping.”
Met ander woorde, ek kan vir AI vra om te help met ’n toespraak/taak/boek, deur ’n onderwerp, genre en hoofpunte te gee.
Gary Williams was baie duidelik teen die gebruik van AI wat vir die skrywer 'n hele boek skryf. Ek stem saam met hom. ’n Boek of artikel moet my woorde wees. Vars. Oorspronklike stuk werk. Nie ek wat net voorstelle moet nasien nie.
Dink jou in dat ’n klas van 30 kinders AI raadpleeg oor ’n sekere onderwerp en almal gebruik dit as toespraak. Dit sal interessant wees om te sien of daar oorvleueling is. Wat my die meeste pla, is dat die leerders nie meer self dink nie, nie meer uniek is met invalshoeke en redenasies nie.
Jy kan AI gebruik vir:
- Brainstorming. Wat van dit? Wat weet jy hiervan?
- Navorsing.
- Hoe lank sal dit neem om ’n sekere taak af te handel (vir projekbestuurder byvoorbeeld).
- Hier is ’n onderwerp en hoofpunte vir ’n toespraak.
- Het jy ’n plan hoe om ?? te doen.
- Wat kan ek doen om lesers se aandag te trek?
- Ek gee vir Advisor terugvoer.
- Ek weet nie hoe verder nie. Voorstelle?
- Ek het te veel idees. Som hierdie 20 idees op na net vyf.
- Ek sukkel om te konsentreer. Vra my 'n paar vrae om my te help met skrywersblok.
In die boek waarmee ek besig is, het ek vir AI idees gevra hoe om boelies op hul plek te sit.
Advisor: “Dit sal nie goed wees om swak gedrag met swak gedrag te beloon nie. Is jy 'n slagoffer van boeliegedrag?”
Nee, ek doen navorsing vir ’n boek.
Ek verander toe my vraag: om boelies op humoristiese wyse op hul plek te sit.
Ek het soveel idees by Advisor gekry en kon dit aanpas by wat die boelies in my verhaal aangevang het.
Hierdie is ’n saak waarin elkeen moet besluit hoe om AI te gebruik. Daar is baie menings. Selfs tegniese aspekte wat jy self kan navors.
Wat my betref: Ek hoop ons sal die jonger generasies steeds aanmoedig om hulle eie breinkrag te gebruik om navorsing te verwerk in hul eie woorde/take/artikels.
Ek gaan steeds my eie boeke skryf, met behulp van die navorsing wat ek doen.
Terug | Terug na bo |