Lindi Steyn skrik toe die voordeurklokkie 'n meter van haar af lui. Ergerlik vee sy die ligte koper haarkrulle uit haar gesig. “Wie’s daar?”
“Tom. Is Maxie hier?”
Wie is Tom? Maxie gesels graag oor mans, maar dié naam het nooit opgekom nie. Wat doen Maxie tydens werksure? Steeds op haar hurke waar sy haar seun Anton, voer, loer Lindi om die gang se muur. Aan die ander kant van die veiligheidsdeur staan die reuse lyf. Sy hemp span styf oor sy bors. Lindi dwing haar blik op en maak oogkontak met bruin oë wat skuil onder welige wenkbroue. Waar kom die drukking in haar bors vandaan? Hierdie man bring haar van stryk af.
Die dag toe Frik uit haar lewe gesluip het, wou sy nie met enige man praat nie. Dinge het egter verander die dag toe haar meubels in die nuwe woonstel gedra is. Sy het verlang na sterk arms om te help én om haar vas te hou, moet sy ruiterlik erken.
“Dis haar dag af,” antwoord sy kortaf.
'n Geroggel laat haar omswaai. “Ai, boeta! Toemaar, Mamma is hier.” Lindi swets toe sy sukkel met die stootwa se knip. Haal diep asem, Lindi. In en uit. Stadig. Van al die moeilike situasie wat sy al alleen moes trotseer, bly hierdie die slegste. Die knip glip oop en sy trek die styfgetrekte lyfie uit die wa na die grond. Al rukkende, val Anton op haar, maar in een beweging rol sy hom af en land op haar knieë langs hom.
“Epilepsie?” vra Tom.
Sy het vergeet van hom.
“Maak oop dat ek help,” bied hy aan.
Lindi strek na die smal gangtafel langs haar, gryp die bos sleutels en slinger dit vloerlangs na die deur. Die man ken vir Maxie, hy is hopelik nie 'n moordenaar nie. Skielik roep Ansa se hoë-frekwensie stem uit die sitkamer. “Nie nou nie, prinses.”
“Ek het hom, gaan help jou prinses,” fluister die diep stem langs haar.
Voor sy regop beur, skrik Lindi vir haar sigbare bobene. Verbouereerd pluk sy die romp af. Die skepsel het seker 'n oogvol gekry tydens haar en Boeta se vloerdans.
'n Halfuur later beskou Lindi die tweeling wat uitkyk oor die tuin. Hulle kan moontlik nie detail sien nie, maar sy glo die wieg van die boomtakke maak hul rustig. Die groot man staan agter hulle, 'n hand op elkeen van die stootwaentjies, en staar in dieselfde rigting.
“Ek het jou naam vergeet. Jammer.” Sy regop postuur beïndruk, nog meer die skoongeskeerde gelaat. Hierdie is haar tipe man; netjies maar modern met 'n vol haardos en skoongeskeerde kante.
“Tom Marks.”
“Dankie vir jou hulp. Jy weet baie van epilepsie? Is jy ? dokter?”
“Noodhulpkursus. Dit is 'n plesier. Werk Maxie vir jou?”
“Sy pas die kinders op terwyl ek bedags werk. Tee?” Lindi draai om en stap na die kombuis toe hy knik. “Hoekom soek jy Maxie hier?” Ontvang Maxie mans terwyl sy die kinders moet versorg? Sy hou nie hiervan nie.
“Ek en haar broer is vriende. Hy het gevra ek moet haar selfoon kom afgee.”
Sy sug van verligting. Maxie het haar broer voorheen kom voorstel toe hy haar kom aflaai het, en hy is 'n agtermekaar man. Die stilte hang tussen haar en Tom. Lindi is moeg en verwens haarself dat sy die vreemdeling genooi het vir tee. Dit kom nou van onnodige agterdog.
“Is jou man by die werk?”
Lindi lig haar hand met die leë ringvinger. “Ek’s alleen.” Die realiteit van haar woorde stamp haar om soos 'n woedende brander. Woede walm deur haar lyf teenoor Frik wat haar alleen gelos het om die tweeling alleen te versorg. Die verantwoordelikheid raak soms te swaar.
Lindi weet nie wanneer en hoe dit gebeur het nie, maar 'n paar minute later wikkel sy haarself los van Tom se nat bors en uit sy stewige greep.
“Jammer. Ek is so jammer.” Sy gryp die vadoek en vryf verleë oor sy borskas. Toe sy haar kop lig, raak sy weg in sy glimlag en sagte bruin oë. Frik het nooit so na haar gekyk nie.
“As jy blaas, sal my hemp gouer uitdroog, voor die groot griep my tref.”
Lindi skud haar kop, meer vir haarself as vir hom. Sy klits hom met die punt van die vadoek terwyl sy die lekkerte agter haar glimlag probeer verbloem. “Ek bring die tee stoep toe, kry solank sitplek.”
Sy staan verstom toe hy sitkamer toe stap en na sekondes weer by haar verbystap. “Hulle is nog rustig,” fluister hy.
Oopmond staar sy hom agterna. Sy moet keer. Hierdie man sal haar maklik oorrompel indien sy hom kans gee.
Lindi se kop rus teen die rugleuning van die patiostoel. Haar gesig is na die flou middagson gedraai. ? Heerlike warmte kruip oor haar lyf en sy sluit haar oë. Die sagte wese langs haar is 'n polisieman. Die teenstrydigheid amuseer haar.
Sy vermoed daardie mooi kykers bespied haar, maar vir 'n wyle verkies sy om die werklikheid uit te blok. Sy wil nog ? rukkie sweef op die wolk van minder sorge, met ? man langs haar wat gure situasies kan hanteer. 'n Man met sterk arms.
“En daardie glimlag?”
Sy was reg, hy hou haar dop. Lui maak Lindi haar oë oop en draai haar kop. Sy innemende glimlag laat haar veilig voel. Té veilig.
“Hoe oud is jou kinders?” vra hy sag.
Die vraag is deurdrenk met deernis. Dit is maklik om te deel. “Die tweeling is veertien, al lyk hulle soos vierjariges.” Sy geligte wenkbrou laat haar meer deel: “In my tweede semester van swangerskap het my uterus geskeur. Die kinders was té onderontwikkeld om ? geboorte te oorleef en die skeur moes herstel word met die kleintjies steeds in my baarmoeder. As gevolg van 'n suurstoftekort in daardie proses het albei nou serebrale verlamming. Hul breinfunksie is geaffekteer en Ansa sukkel om te praat.”
“Van wanneer af is jy alleen?”
“Frik het laat spaander toe die kinders vier jaar oud was en is saam met 'n jong pop oorsee.” Sy staar vorentoe. Haar selfbeeld was destyds, en is steeds, in skerwe gesny omdat Frik haar ingeruil het vir 'n snuiter.
“Help hy darem met onderhoud?”
“Vrot Frik leef net vir homself. Ek het dit té laat in ons huwelik besef. Ons bestaan nie meer vir hom nie.”
Lindi loer na hom toe hy swets. Sy wit kneukels en stywe vuis laat haar glimlag.
“Ons is oukei, Tom. Anton is 'n tevrede seuntjie, 'n sonskynkind wat net wil kuier. Die epileptiese aanvalle kom nie te gereeld nie.”
“Net wanneer 'n vreemdeling aan die deur klop?”
Lindi glimlag. “So iets. Ansa is 'n stryder en sy probeer hard met haar motoriese oefeninge. Al kan sy nie praat nie, verstaan sy baie van wat om haar aangaan.”
“En jy?”
“Ek leef vir die versorging van my kinders.”
Lindi kyk weg toe sy wenkbrou lig. Ja goed, sy antwoord nie sy vraag nie. Sy wil nie, dit sal die atmosfeer befoeter.
“Ons het Amanzimtoti toe verhuis sodat hulle in Huis Sonskyn opgeneem kan word,” gesels sy voort voordat hy meer kan vra oor haar. “Die vorige plek in Pietermaritzburg akkommodeer kinders net tot ouderdom 15. Die kinders is volgende week 15 jaar oud en Huis Sonskyn kan hul versorg vir die res van hul lewens. Ek moet werk om ons te onderhou, dus het ek permanente versorging vir hul nodig.” En om nie self van haar kop af te raak nie.
Lindi druk onnodig hard op die foon se skerm. “Die bliksem.” Dit is die soveelste oproep na verskeie polisiestasies en geen mens ken 'n Tom Marks nie. Tom is weg. Soos vrot Frik, het hy pad gevat. Vloeksteen. Lindi gryp haar woonstelsleutel. Sy het seelug nodig.
Stap rustiger, vermaan sy haarself. Dit lyk of sy op pad is om iemand te bestorm. Indien Tom nou voor haar verskyn, sal hy nie lank genoeg leef om te wonder wat hom getref het nie.
Lindi kom tot stilstand en slurp vars lug in. Daar is baie om voor dankie te sê, was haar trooswoord sedert vrot Frik weg is. Dit is amper twee maande nadat die kinders hul intrek in Huis Sonskyn geneem het en hulle het maklik aangepas. Dít is iets om voor dankbaar te wees.
Sy maak haarself gemaklik op haar geliefkoosde rots en staar uit oor die see. Sy kan nie vir haarself lieg nie, haar gemoed lê laag. Baie laag. Sy het geglo Tom is anders. Hul verhouding het haar hemelbed geword, haar sagte kussing, haar veiligheid. Na die eerste dag was Tom deel van hul lewens. Sy het haarself toegelaat om die kans te vat en hom in te laat in haar geslote bestaan. Hy was saam toe sy die kinders by Huis Sonskyn ingeboek het. Daarna het hy roomys op die strand gekoop toe sy sukkel om die afskeid uit haar sisteem te kry.
Sedertdien het die strand hul kuierplek geword waar hul geselsies kon maak oor wat die see en branders vertel. Ander kere kon hul stil staar na die horison, haar hand veilig in syne. Hierdie mater is 'n trouman, het sy menigmaal gedink, veral toe hy nie omgee om haar koue hande vas te hou nie. Hy kon luister, hy kon haar laat lag, hy het saam met haar simpel liedjies gesing en met haar gedans. Hy is vrot daarmee, maar het ten minste probeer. Sy het soos 'n prinses in sy teenwoordigheid gevoel. 'n Mooi prinses, wanneer hy haar voorkoms besing en sy vingers deur haar skouerlengte krulle gesypel het.
Tom se sagtheid en omgee het haar oorrompel. Sy wou nie by 'n man betrokke raak nie, maar met hom was daar nie keer nie. Hier waar sy nou sit, het hy haar hart gevat en verdwyn. Sy is nou meer stukkend as die dag toe sy Frik se nota op haar bedkassie gekry het.
Lindi probeer nie eers die hardop-snikke keer nie. Saam met Tom was sy weer 'n jongmens, soos tydens haar wonderlike, luilekker universiteitsdae. Die onbesorgde lewe voor haar troue, bring 'n spul heimwee na vore. Die see raas, niemand is naby om haar treurkrete te hoor nie.
Lindi vee haar trane af en staan op. Die getjank moet nóú einde kry. Sy was 'n swaap om oor Tom bekommerd te wees en gewonder het of hy seergekry of dalk dood is. Teenoor Maxie was sy te skaam om navraag te doen, té bang die meisie lag vir haar wat so gou staan en verlief raak het.
“Lindi?”
Die bekendheid klap haar soos ? sweep. Wat? Sy swaai om en verloor haar balans.
“Wow, wees versigtig.”
Sy vingers klem om haar bo-arm. Die glimlag op sy bakkies maak haar woedend. “Los my!”
Sy glimlag verdwyn en sy onsekerheid gee haar moed. Sy klap sy arm weg en begin stap. “Voertsek.” Sy uiter die woord met elke vesel krag in haar lyf. Haar stembande kry seer. “Loop!”
“Asseblief, laat ek verduidelik.”
Lindi stop vinnig en swaai om. Tom strompel teen haar vas en moet haar weer gryp voor sy omval. Baie vinnig gee hy ? tree terug.
“Wat verduidelik? Dat jy gelieg het oor waar jy werk? Dat jy gelieg het oor hoe jy oor my voel? Wat soek jy nóú hier?”
Hy sluk swaar en byt sy onderlip vas. Haar woorde het die teiken getref.
“Sal jy my kans gee om te verduidelik?”
“Nee,” mompel sy en toe sy wil omdraai, keer Tom. Dit maak haar woedend en sy laat die rooi van haar hare vry. “Los my!”
Sy vingers klem oor haar skouerknoppe en sy mik vir sy maermerrie.
“Flippen hel, Lindi!”
Hy los haar en trippel op een been terwyl hy die ander een vryf. Lindi drafstap weg, al hoor sy hom roep.
Uitasem spartel sy om die veiligheidshek van haar woonstel oop te sluit. Kalmeer, hou op ruk. Uiteindelik draai die slot en sy glip in. Vinnig sluit sy van binne. Haar bors deins op en af. Dit is belaglik, Tom het haar nie eers agterna gesit nie. Dis dalk eerder ? geval van sy wat weghardloop van haar gevoelens.
Lindi blaas haar asem stadig uit, gee 'n tree terug om die houtdeur toe te stoot, maar Tom se groot hand hou dit oop.
“Ek gaan nie opgee nie, Lindi, ek moet verduidelik. Daarna sal ek loop.”
“Ek stel nie belang nie.” Sy draai om en stap die woonstel binne, uit sy sig uit.
Die geskuifel by die deur laat haar versigtig om die gangmuur loer. Tom sit kruisbeen voor die veiligheidshek.
“Ek ís in die mag, maar deel van 'n spesiale eenheid en nie 'n gewone polisieman nie. My span se taak is om georganiseerde misdaad te bekamp. Vir 'n geruime tyd probeer ons voet in die deur kry by mensehandel, en het 'n handlanger gearresteer. Hy het info gegee van 'n vergadering op 'n jag in die middel van die see. Met ons laaste kuier is ek inderhaas hier weg en direk na ons kantore. Na 'n onmiddellike intensiewe inligtingsessie was ek op pad met 'n tas wat die buro gepak het. My persoonlike foon het agtergebly en ek is met 'n gedokterde foon op die boot. Na baie grootpratery, toneelspel en noem van name van gefabriseerde konneksies in kinderhandelgroepe dieper in Afrika, het die spul my begin vertrou. Een aand, met medevaarders wat dik gedrink is, het ek agtergekom dat die eintlike grootbaas in die tronk sit en het dit aan my bevelvoerder gerapporteer. Aan land is ek saam met die res in hegtenis geneem.”
Lindi stap om die sitkamermuur en kry haar sit aan die ander kant van die veiligheidshek.
“Ek moes saam tronk toe om verder te delf.”
“Jy kon my laat weet het.”
“Daar was nie tyd nie, Lindi, en vanaf die jag kon dit my identiteit prysgegee het. Die goed is baie sensitief. Indien iets uitlap, kan ek jou en die kinders in gevaar stel.”
“Dan is ons steeds in gevaar, hulle sal agterkom jy is vrygelaat en hulle nie.”
“Nadat ek die kern van die sindikaat in die gevangenis kon uitwys, was ek betrokke by 'n kamma-geveg en ek, oftewel Johnny Klater, is in die siekeboeg dood verklaar.”
Lindi ril. “Johnny Klater. Dit klink vrot.”
Tom se sagte lag tokkel haar hart se snare. Sy het so na hom verlang.
“Hy ís vrot en begrawe. Tom Marx leef nog. Kan jy die knaap nog 'n kans gee?”
“Ek was verpletter.”
“Ek het so vermoed, veral na jou geskiedenis met Frik.”
Hy steek sy hand deur die tralies en streel sag oor haar wang. “Ek was bekommerd oor jou. Lindi, kyk vir my,” fluister hy. Sy gehoorsaam en hy vervolg: “Toe ek jou ontmoet het, het ek nie geweet jy gaan so belangrik raak vir my nie. Jy het nesgeskop in elke kamer van my hart. Jou liggroen-oë het by my gekuier, elke sekonde wat ek kon waag om te ontspan tydens die missie.”
Die erns in sy stem laat Lindi snik van verligting. Sy draai haar gesig sodat haar lippe in sy palm wegraak. Haar oë val toe, sy hou sy hand in posisie met hare en druk 'n soen in sy palm.
“As jy die versperring tussen ons oopsluit, kan my lippe beter doen as my hand en jou terug soen.”
Lindi glimlag en kom orent. Daar is niks beter vir haar siel as om weg te raak in sy arms nie.
Tom raap haar op en sy sagte soene bedek haar gesig soos 'n onderlaag. Elke greintjie asem word gebruik vir 'n genoeglike sug toe sy lippe haar lipstif word.
“Na hierdie wonderlik soen kan jy my maermerrie spalk,” fluister Tom.
Terug | Terug na bo |