26 Maart 2021

Goeiemiddag, Elsabé

Ek het jou boek nou letterlik in een dag deurgelees. Kon dit om verskeie redes nie “neersit” nie.

 

REDE NOMMER 1: DIE GENRE.

Hierdie boek pas perfek in ‘n genre wat baie min skrywers bo die ouderdom van 25 kan bemeester: fiksie vir adolessente ouer as 16 jaar. #Vlugenterug is ‘n meesleurende spanningsverhaal waarin die dinge van ‘n kind agtergelaat is, maar jonkheid nog nie.

 

REDE NOMMER 2:  DIE TEMA.

#Vlugenterug is ‘n distopiese verhaal waarin ‘n outoritêre nagmerriewêreld tot stand gekom het as gevolg van vorige generasies se radikale besluit om die eie volks- identiteit op die afgesonderde eiland Lekuta te beskerm, om etniese suiwering te bewerkstellig. So word Amina, Munnik, Zoop en die res van hulle nageslag uiteindelik van die res van die wêreld geisoleer.

 

NOMMER 3:  DIE SPANNINGSELEMENT. 

Die leser wonder deurgaans wat volgende gaan gebeur. Wat gebeur met mense wie se beurt dit is?  Gaan  Munnik en Amina se passie hulle oorweldig?  Hoe gaan Amina ná die neerstort van die vliegtuig oorleef?  Gaan sy lief word vir Zoop? Jy het ‘n uitsonderlike gawe om spanning te skep en in stand te hou, Elsabé. 

 

REDE NOMMER 4:  DIE ROMANTIEK, DIE LIEFDESELEMENT.

Hier is ‘n jeugroman waarin die passie tussen jongmense beskryf word soos wat dit is, maar sonder dat prikkelende erotiek van hierdie jeugroman ‘n hygroman maak. Wat die skrywer bereik met wat wel geskryf/beskryf word, is om twee volronde en geloofwaardige karakters te skep: jongmense in wanhoop oor wat op Lekuta aangaan, jongmense wat ideale het, Amina as heldhaftig en woedende jongmens,  jongmense wat mekaar in ‘n verhouding begeer,  jongmense wat mekaar vind en nie veroordeel nie. 

“Ek vrek vir ? ordentlike soen.”

“Ek vrek vir ordentlike lyftaal, never mind ? soen.”

“Ek is verloof.”

Munnik sit sy arm om haar skouer en druk 'n soen op haar kop. “Gelukkige drommel wat jou kry.”

“Dis lekker om liefgehê te wees.”

 

REDE NOMMER 5:  DIE TAALGEBRUIK.

Hier is ek heeltemal uitgeboul.  Hoe kry jy dit reg, Elsabé?

  1. “Julle kan nie die probleem candycoat nie.”
  2. “Is jy en Munnik sterk serious?”
  3. “Maar net een met wie ek my page wil share.”
  4. “Owerheid het van ons, voor ons tyd, grootmense gemaak. Ons is nie veronderstel om op hierdie ouderdom al te werk nie. So, dis enter en next paragraph: grootmense wat lief is vir mekaar, sit saam huis op.”
  5. “Sover ek weet is hier nie meer voorbehoedpille op Lekuta nie. Wat moes hulle doen?”  “Daar’s ander maniere,” antwoord hy geïrriteerd. “Hoe? Nie te lyftaal nie? Sal jy dit regkry?” Munnik brom ergerlik: “Nee.”
  6. Yolo, Ma, al die eilandkinders ken mekaar al lank.”  “Moenie my probeer intimideer met slim afkortings nie. Wat is yolo?” vra Karel met 'n frons.  “You only live once, Pa. Ons weet nie wat ons toekoms inhou nie, maar met dit wat ons nou het, is hoe ons wil leef.”
  7. “Krank gedrank..”
  8. Ons gaan gryp ‘n brander...

Jy moes baie, baie oplettend geluister en neergeskryf het, Elsabé.  Ek haal my hoed vir jou af.

Elsabé, jy is ‘n ware jeugromanskrywer en ek wens jou net die voorsetting van ‘n skryfloopbaan toe soos wat jy dit deur en deur verdien.

Heerlike dag

Maretha Maartens.

Terug Terug na bo