“Wanneer die weer opsteek, sleg opsteek, en 'n koue wind die donderslae vooruitloop, dan weet ek die hael is op pad.”

Pa se hand tik lig op sy maer kniekop. Dit is 'n verweerde 97 jaar oue hand wat jare se harde arbeid deurstaan het.

“Wat het Pappie dan gedoen?”

“Pa het van buite ingekom en koers gekies kamer toe,” antwoord Ma, met 89 somers agter die rug en 68 jaar aan Pa se sy.

Ek frons en my blik bly op sy gesig. Ek wil meer hoor.

“Ek het die gordyne loop toetrek, Sus, en met toe oë gelê en luister. Ek kon nie kyk nie,” vertel Pa. “Ek het gebid, en genade gevra vir my diere en saailinge.”

My hart skop tot stilstand. Ek het groot geword op my pa se plaas, maar nooit besef hoe intens hierdie afhanklikheid van die Skepper is nie. 'n Boer kan boer en hy weet van harde werk. “Maar die weer, my kind, dis in God se hande. Daaraan kan ons niks doen nie.” Te veel reën. Te min reën. Stormwinde. Hael. Hierdie pakkie moet 'n boer oorgee aan sy Vader.

My tande knie my onderlip. Hoe boer 'n boer wat nie in 'n verhouding staan met sy God en Hom nie onvoorwaardelik vertrou nie?

Meteens kyk ek anders na elke boer en ek wens vir 'n loergaatjie om te sien hoe elke boer sy afhanklikheid van God hanteer. Ek herinner my aan 'n onlangse gesprek, hierdie keer oor hul veiligheid. Sy reaksie: “Ons vra en ons glo. Ons is verantwoordelik, maar in vrees leef ons nie.”

Liewe Boer, jy wat jou gesin moet beskerm en versorg, jy wat die land moet voorsien van kos, vandag het jy by my kom stilstaan. Ek word daaraan herinner om vir jou en jou gesin te bid. Dankie dat jy jou lewe en energie op die spel plaas om 'n brood op my tafel te sit.

Terug Terug na bo