KOMBUISLUIS

 

“Wat gaan jy aanvang in hierdie lieflike ruimte?”

Ek wou my vererg, daardie dag. Ons het so pas in 'n nuwe huis nes geskrop en my vriendin het geamuseerd rondgekyk. Dink sy ek kan nie 'n eier bak nie? Waar reken sy maak ek koffie? Op 'n primus stoof gemonteer op die toiletbak? My bui het gou gesak. Magriet is my vriendin, sy ken my afkeer in kosmaak. Dit is juis hierdie verskil in ons persoonlikhede wat ons na mekaar aantrek. Sy kan kom kuier, tydig en ontydig, en met kosmaaktyd gee ek vrye teuels aan haar om beheer te neem van my groot wit-en-grys kombuis-koninkryk.

 

Hierdie kos-ding kom reeds van vervloë dae. Aangebore, glo ek, al wou Ma dit nie verstaan nie. Dit was nie luiheid nie. Ek het my kosbeurte wettiglik geruil met my sussies, vir ander hande-arbeid. Gewoonlik moeiliker take as kosmaak, soos kouse stop in daardie jare. Enige iets was beter as die grillerige deeg of verdunde bloed van beet wat nie onder 'n vingernael wil uit nie. Die slim skooldogterplanne het my ingehaal na my troue. Het enige ander persoon, behalwe ek, al eenvoudige bruinsous vir rys aangebrand? Ek sal nooit die verbystering op Tobie se gesig vergeet nie. Hoe kry jy dit reg, wou hy verstom weet. Sukkelend het hy 'n klont spoeg probeer afsluk. Na vyf jaar van getroude lewe en uithou met my, het my lankmoedige Tobie die kuns bemeester om te lag vir my oorspronklike foute. Die koekie was hard. Té hard vir menstande. Dalk sou Zim, die Labrador, iets daarmee kon uitrig. Wat soek die boks polyfilla op dieselfde rak as die koekmeel? Ja, ek kan lees, maar ek het nie gedink dis nodig om die spens se lig aan te sit nie.

 

Wat is dit met mense en kos? Hoe kry 'n vrou dit reg om drie tot vier ure van haar kosbare tyd in die kombuis rond te waggel, wat daarna binne tien minute deur die gesin verorber word? Wat 'n verskriklike offer bring sy sodat haar mense na die laaste sluk haar bedank met: “Baie lekker gewees, dankie.” Doen sy dit omdat sy regtig niks anders het om te doen nie? Dalk omdat dit al manier is om haar gesin se waardering op te slurp? Vir slegs daardie drie-sekonde lange verering? Eerder nader aan twee sekondes. My kooksussies is innerlik sterk. Met hierdie geringe aanmoediging beoefen hulle die beroep dag na dag. Ongelooflik.

 

'n Ruk gelede in die personeelkamer, luister ek na die opgewonde gesels van my kollegas oor die Master Chef kompetisie op televisie. Ek volg nooit die program nie, inteendeel, ek het dit nooit eers oorweeg om oor te skakel na die kanaal nie. Goed, ek aanvaar kosmaak en kook is 'n passie vir sommige mense. Daardie aand het ek oorgeskakel na die Master Chef-kanaal en vir die eerste keer besef dat elke stoofroof 'n genie in eie reg is. Ek het 'n handigheid en wysheid aanskou waarvan ek geen kennis dra nie. Het hulle ingenieursgrade? Beïndruk het ek die konstruksiewerke bekyk en myself uit die bank gelig toe die beoordelaars die deelnemers nader roep. Met 'n sagte stem en pinkie in die lug, is die deelnemer ingelig dat haar gereg vervelig geposisioneer is. Ek het platgeval op die bank, my oë op die spesifieke bord. Wat is fout met daardie senter-posisie? Vat die dekselse vurk en kry die kos in jou lyf. Watter moegoe gee om oor wáár die kos in die bord lê? Volgens my is die gereg baie kunstig gerangskik en voorgesit, getooi met 'n sjokolade strepie en kruisementblaartjie. Die tweede deelnemer se gereg proe effens swaar. Huh? Nie suur nie, wel swaar. Hoe proe swaar? Kry 'n hyskraan wanneer jou armspiere nie ? vurk kan lig nie. Ek het my kop geskud. Is die glimlaggende aanvaarding van sulke onsinnige kritiek eg? Die deelnemers is dapper wesens om sulke kritiek te absorbeer. Ek sou uitgebars het van die lag, en dan, na my skokreaksie, kon ek die beoordelaar beloon met een my swaar polyfilla koekies.

 

Moenie 'n fout maak en dink ek kan nie kos maak nie. My Tobie se maag getuig dat hy nie honger ly nie. Natuurlik het skoonma hierdie verdedigende uitlaat van my tot niet verklaar met: “'n Groot maag kan dui op ongesonde voeding.” Ek wou haar as bestanddeel in die Kenwood se mengbak smyt. Nie bietjie vir bietjie en om die beurt byvoeg, soos 'n resep aanbeveel nie. Eerder soos 'n eetlepel botter inplof onder die aanslag van dansende klitsers. Die ding is, ek sien geen nut daarin om pampoen te kook, klomp bestanddele daarby te gooi en dan pampoenkoekies te bak nie. Boonop moet daar 'n sousie ook gemaak word. 'n Sousie wat kan aanbrand. Ek moet toegee, pampoenkoekies ís soet en lekker. Hoekom nie eerder stop sodra die pampoen gaar is en skelmpies 'n lepel of twee suiker byroer nie? Dit sal verseker dat die soetheid-standaard van eenvoudige pampoen ooreenstem met die van ? pampoenkoekie.

 

Om woonagtig te wees en kos te maak op die platteland, vereis buitengewone vernuf. Ek praat van plat-platteland. Daar is nie 'n Fruit-and-Veg nie. Daar is nie eens 'n porra-op-die-hoek nie. Daar is net plaaslike grondverbouers wat slegs groente verkoop wat in seisoen beskikbaar is. Hierdie groente is varser as Fruit-and-Veg-groente. Die verskeidenheid is egter beperk, daarom was dit 'n groot uitdaging om genoeg gesonde kos in die gesin se lywe te kry. Let wel, gesond, skoonma-gesond. Soms was daar net kool. Opgekookte koshuis-kool sou ek nooit kook nie. Die reuk gee my sinus. Koolslaai is 'n dis wat ons nooit geëet het nie. Nie omdat die kombuisluis - dis nou ek - te lui was om dit in fyn repies se kerf nie. My gesin het besluit dis sleg. Net dit: sleg. Op hierdie plat-platteland moes ek 'n plan sien. Nie net ter wille van gesondheid nie, moet ek bieg. Ek moes hulle mae vol kry. Planne maak is my sterk punt. Het jy geweet hoe fiemies-mense kan smul aan 'n bak koolslaai wanneer 'n titseltjie kondensmelk in die mayonnaise gemeng is? Koolslaai was daarna gereeld op ons spyskaart, selfs na ons terugkeer stad toe. Woep-woep kondensmelk!

 

Saam eet is 'n gesellige geleentheid. Gesinstyd. Kletstyd. Wel ja, soms ook bakleityd. Opvoedingstyd. Eettyd is 'n sensitiewe tyd, minute wat met oondhandskoene hanteer moet word. Gister het ek dit terdeë besef. Die huishouding was rustig. Die gesin het saam kos voorberei vir Sondag-middagete, iets wat ons gereeld sáám doen. Tobie is die vleismeester, Boeta maak rys gaar in die mikrogolf en gooi vir ons koeldrank in. Sus is op slaai en ek hanteer die groente-gereg. Pampoen, nie pampoenkoekies nie. Die gemoedelike saamkuier begin reeds daar en het vlot verloop, tot voor die laaste happe kos verorber is.

“Heerlik. Wat eet ons vanaand?” wou Tobie weet.

Die sagte pampoen in my mond het die vorm van ? harde polyfilla-koekie aangeneem. Ek het hom aangegluur. “Kan ons net hierdie boer se oes verteer voordat ons die volgende hoender gaan melk?” Drie verbaasde blikke het my min geskeel, maar toe Sus verstik in haar lag, het my aggressie na haar gefokus. My frons het verdiep toe Boeta se proeslag die rys uit sy mond laat sproeireën. Die glinster in Tobie se oë was die laaste strooi. Kombuisluis het opgespring, haar bord en eetgerei gegryp en veiligheid gaan soek in die ruimte waarvan sy so min hou. Tobie het my gevolg en sy arms om my lyf geslaan waar ek skottelgoedwater begin intap het. “Weet jy wat jy gesê het?”

“Wat is julle so behep met kos, Tobie? Ons het vir 'n uur gestaan en kosmaak. Jou maag is vol. Kan jy iets anders as kos in jou denke inwerk?”

Liewe Tobie het my verskoon van aandete en self iets voorberei. Eierbrood.

“Pa het eiers gaan melk, Ma.”

“Dis wat ek bedoel het met die stelling, om die hoender van sy eiers te melk,” brom ek. Die son in my geliefdes se oë het opgekom en hulle het verstom oogkontak gemaak. Dit was my beurt vir 'n proeslag.

 

Tydens ons plat-plattelandse lewe in Mosambiek, het ons groot waardering gehad vir die lieflike, uiters eenvoudige plaaslike mense. Hulle lei 'n bestaanslewe en verbou dit wat hulle elke dag nodig het om te eet. Ons het gereeld groepe kerkmense besoek. Selfs al was hulle arm het ons nooit weggery sonder iets te ete nie. Die reël in die gesin was om nooit te opmerkings te maak oor waar die kos voorberei word nie. Weinig Suid-Afrikaners sal dit oorleef. Die pappot en hoenderpot word staangemaak op 'n oop vuur. Die stadigste hoender se kop is afgekap, sommer daar op die naaste klip, met honger honde wat wag om enige sappigheid op te lek. Die vere het nie figuurlik gewaai nie, maar wel letterlik. Ander baldadige hoenders sou rondom die kospotte vroetel, op soek na stukkies pap en meel naby die oop stoof. Vir daardie dag is hulle die gelukkigste spesie ooit want hul is oorgeslaan om nog eiers te lê. Op die punt moet ek noem dat Mosambiekse hoenders nie opgevoed is en nie weet van toiletgeriewe nie. In hierdie prettige oopplan-kombuis word die paplepel op die naaste klip neergesit, ongeag of die hoendertjie se uitlaat of die hond se speeksel ook daar 'n spasie opgeëis het.

Ons het nooit siek geword nie, inteendeel, die kinders wou soms ? tweede happie hê, veral van die opgekapte hoender. Opgekap, want een hoender word met 'n byl bygedam sodat dertig mense 'n stukkie vleis kan kry.

Gulsigheid het my een dag duur te staan gekom tydens 'n ander besoek. Vis en rys was op die spyskaart. Ek het gekies om die waterige sous waarin die paar stukkies vis gedryf het, mis te kyk. Ten minste het die sous nie aangebrand nie. My oog het wel die drywende uie-stukkies geëien. Ek het genoeg daarvan oor my rys versprei. Die eerste hap was freakin verdrietig. Die drywende produk was die skubbe van die vis.

 

Die stoof se klokkie lui. Nee, daar is nie 'n heerlike gereg in die oond nie. Stoofklok is my wekker vir sekere take wat gedoen moet word, soos kos koop. Jy het reg geraai. Dit is ook nie my geliefkoosde tydverdryf nie. Kombuisluis, die plannemaker, koop haarself om om dit agter die rug te kry. Die laaste item voor ek na die teller stap, is 'n donut met sjokolade versiering, veilig verpak in die wit boksie totdat ek agter die stuurwiel sit. Dankie tog vir 'n stoofroof wat donuts bak.

 

Die einde

Terug Terug na bo