Dit is skemer. Haar knieë is opgetrek teen haar lyf. Die beddegoed opgefrommel om haar. Dis die eerste ordentlike ou wat hom nie skaam vir haar nie. Sanita Erasmus bedberaad met haarself. Sagte klapgeluide uit haar mond breek die stilte. Die kougom hou haar kake besig. Darius Berg hou haar gedagtes besig. Hy veroordeel nie. Sy sug en glimlag. Hy hou haar in die stroombaan. Sy met al haar wilde drange. Darius gee haar ʼn kyk in sy leefwêreld, een met baie minder gagga as haar eie geknersde koninkryk. Sal hy uithou met al haar letsels? Hoe gaan sy hom behou? Een ding weet sy: haar pa en ma moet nie naby hom kom nie. Sanita se lyf trek saam soos sy gril van skaamte.

“Wat van jouself,” vra die aanklaer iewers binne haar.

“Ja, oukei,” sê sy sag. Sy weet sy is nie onskuldig nie. Darius weet in elk geval van alles.

“Alles?” treiter eerlikheid haar.

Sanita frons en skud haar kop. Hy sal nooit alles uitvind nie. Veral nie van… Sy wil dit nie eers in haar gedagtes noem nie. Dis té donker. Té seer. Sanita gly onder haar kombers in, krul op asof sy koud kry. Die sagtheid van die winterlaken troos. Hy mág nooit weet nie, want Darius sal nooit verstaan nie. Dis gelukkig iets wat sy kan beheer. Kan wegsteek. Haar ouers is die splinter onder haar nael. Hoe steek sy hulle weg? Sanita se straat-bravade pols deur haar lyf. Sy strek haar bene reguit en draai op haar rug. ʼn Goed uitgewerkte plan is nodig. Hulle moet weg. Maar hoe? Sy is nie ʼn moordenaar nie.

“Is jy seker?” Alweer die gewete-pes.

“Dis anders,” mompel sy sag.

“Moord is moord.”

“Voertsek.” Haar oë trek skrefies. ʼn Plan. Sy ken genoeg straat-boezoes. Hakkel voor jy takel, het iemand eendag gesê. Ouma Petra moes verduidelik: Mens moet dubbeld dink voor jy iemand leed aandoen. Sy het tyd, terwyl haar pa en ma in die tronk sit. Dan die takel, voor hulle haar opsoek. Definitief voor hulle Darius ontmoet.

Terug Terug na bo