PROLOOG

Dit is skemer. Haar knieë is opgetrek teen haar lyf, die beddegoed opgefrommel om haar. Dis die eerste ordentlike ou wat hom nie vir haar skaam nie. Sanita Erasmus bedberaad met haarself. Sagte klapgeluide breek die stilte, die kougom hou haar kake besig. Darius Berg hou haar gedagtes besig. Hy veroordeel nie.

Sanita sug. Haar kake ontspan toe sy glimlag. Darius hou haar in die stroombaan. Sy, met haar wilde drange. By hom kry sy ? kyk in ’n ander leefwêreld, een met minder gagga as haar eie geknersde koninkryk. Sal hy uithou met al haar letsels? Hoe gaan sy hom behou? Een ding weet sy; haar pa en ma moet nie naby Darius kom nie. Sy ril. Dit is nie van koue nie. Skaamte, dis al.

“Wat van jouself?” vra die aanklaer binne haar.

“Ja, oukei,” mompel sy. Sy is nie onskuldig nie. Darius weet in elk geval van alles.

“Alles?” treiter eerlikheid haar.

Sanita frons. Hy sal nooit alles uitvind nie, veral nie van … Sy wil dit nie eers in haar gedagtes verwoord nie. Dis té donker, té seer. Sanita gly onder haar kombers in en krul op. Die sagtheid van die winterlaken troos.

Hy mág nie weet nie. Darius sal nie verstaan nie. Dit is gelukkig iets wat sy kan beheer en wegsteek.

Maar haar ouers? Hoe steek sy hulle weg? Sanita se straatbravade pols deur haar lyf. Sy strek haar bene reguit en draai op haar rug. Die grys plafon gee raad: ? goed uitgewerkte plan is nodig. Hulle moet weg, maar hoe? Sy is nie ? moordenaar nie.

“Is jy seker?” Alweer die gewete-pes.

“Dis anders,” brom sy.

“Moord is moord.”

“Voertsek.” Haar oë trek skrefies. Sy ken genoeg straatboezoes. Dink voor jy doen, het ouma Petra haar impulsiewe kleindogter altyd vermaan. Sy het tyd om te dink terwyl haar pa en ma agter tralies is. Dan sal sy van hulle ontslae raak voordat hulle haar opsoek. Definitief voor hulle Darius ontmoet.

Terug Terug na bo