DIE ZINBALIPOORT

Elsabé Welman

“Waar is sy nou?” vra Marnus kliphard vir homself.  Hy knip sy oë, besef daar is nie sonstrale wat sy sig vir ʼn oomblik gedoof het nie.

Pandra Loom.  Die meisie trek hom aan soos ʼn dorstige by na ʼn oop blikkie koeldrank.  Die eerste dag in die klas, het haar blou oë hom ingekatrol.  Hulle het lank na mekaar gestaar, totdat hy blosend geglimlag en geknik het.  Sedertdien groet hulle altyd, of glimlag vir mekaar.

Hy draai sy handpalms na bo.  “Ek verstaan nie.  Sy’s ook nie verder af in die pad nie.”  Marnus drentel na die boom.  Sy ontsnappingsplek van verwagtinge, van meisies met bewondering in hul oë, seuns wat hom sien as ʼn sportheld.  Waarom kan hy nie net ʼn gewone siel wees nie?  Dit is hoe sy binnekant is.  Hy leun met sy lyf teen die boomstam.  Sou Pandra verder in die pad af bly?  “Hier is nie huise naby nie.”  Hy glimlag.  “As iemand hoor hoe ek met myself praat, sal hy dink ek het ʼn paar doppe weg.”  Tussen ander mense is hy stil.  Hy kan homself goed uitdruk wanneer hy in gesprek is met mense, wanneer hy as hoofseun of rugbykaptein moet praat.  Andersins luister hy eerder.  Totdat hy op sy eie is.  Dan raak sy tong los.  Hy sak af en sit teen die boom.  Stilte pla hom nie. “Ek praat as ek wil.  Ek swyg as ek wil.”

Ongeveer ʼn uur later staan hy op, vryf sy stywe boude.  Sonder haas stap hy na hul woongebied in Wolvallei, ʼn middelgrootte dorp in die Noordwes Provinsie.  Gelukkig is die termyn se sport verby.  “Al waaroor Pa nou kan preek, is goeie punte.”  Hy weet dit is ook nie ʼn probleem nie.  Iewers het hy ʼn goeie brein ge-erf.

****

Marnus sien haar dadelik raak toe hy voor skool om die hoek kom. Hoekom sit sy altyd alleen?  “More,” groet hy.

Pandra kyk op.

Die mooi oë sluit hom in haar toe. Haar glimlag laat hom egter nie soos ʼn gevangene voel nie.

“Hallo, Marnus Zietsman.”

Hy hoor die huppel in haar stem. “Hoe weet jy dis my van?”

“Na ʼn week in die skool...  jy is ʼn jongman waaroor gepraat word.”

“Mag ek langs jou sit, Pandra Loom?”  Hy wag nie vir ‘n antwoord nie, sak stadig af op die muurtjie langs haar.

“Sekerlik.  Hoe weet jy wat mý van is?”

Haar taalgebruik is altyd korrek.  Sy meng nooit haar tale soos die res van hulle nie.  “Moeilik om so ‘n naam en van te mis. Klink soos ʼn alien-naam.”

Sy kyk vinnig op. “Hoekom sê jy so?”

Marnus giggel.  “Nie die gewone familiename vir ʼn plattelandse dorp nie.”  Hy leun effens regs en sy skouer stamp lig teen hare.

“Ek is uniek,” brom Pandra.

“Vir seker.  Welkom in ons skool.”

“Dankie. Jy het dit al gesê.”

Marnus frons. “Wanneer?  Het nog nooit juis met jou gepraat nie.”

“Daar was iets aan jou wat my welkom laat voel het.”

Marnus glimlag. Hy reageer nie op haar antwoord nie. Hulle kontak die eerste dag was intens. Sy het dit dus ook aangevoel.  Dit het hom nog elke nag wakker gehou.  Die eerste meisie wat nes skrop in sy gedagtes.

Die klok lui. Sonder verbale gesprek stap hulle saam na hul klas.

****

Na die laaste periode pak Marnus sy boeke stadig weg, sodat die grootste gros kinders eerste kan uitstap.  Hy haat die samedromming op die stoepe, almal se gegons in sy ore.  ʼn Verlange na sy boom gryp hom vas.  Moet hy gaan? More skryf hy ʼn Wiskunde toets.  “Net ʼn rukkie,” troos hy homself.  Hy stap eers sy huisroete. Draai na ʼn paar blokke weg veld toe.  “Heerlike stilte met myself,” begin hy hardop kuier.  Hoekom voeter hy boom toe?  Sy ouers is nie by die huis nie.  “Ek kan daar ook stilte…”  Hy sak af tussen ʼn paar polle lang gras.  “Hoekom kruip ek weg?”  Hy lig effens en kyk na Pandra wat ʼn ent voor hom stap.  Sy sing. “Watse taal is dit?”  Dit klink vir hom nie soos Engels of Afrikaans nie.  Hy praat sag, hou sy kop skeef: “Seker die afstand.  Kan nie hoor nie.”  Dan staan hy regop, stap stadig aan.  “Ek wil sien waar jy bly, Pandra Loom.  Wil jou beter leer ken.”

Marnus se gedagtes dwarrel terug na pouse.  Hulle het bymekaar gesit, stil hulle eetgoed verorber. Hy sy toebroodjies. Sy ʼn vreemde koekie. Hy het ongemerk daarna geloer in haar hand; tien sentimeter in deursnee, twee sentimeter in hoogte.  Dit het gelyk soos ʼn gesondheidkoekie.  Seker iets wat haar ma gebak het, dis nie in winkels te koop nie.  Hy het stil-tevrede langs haar gesit.

Marnus kyk op en besef hy is by sy boom.  Hy loer om die boom op soek na Pandra.  “Ag nee, dêmmit!  Sy’s weer weg.  Hoe kan dit wees?”  Met sy hande in sy sye kyk hy rond.  “Kruip sy nou weg?”  Hy lig homself tot op die eerste tak.  Dit is ‘n goeie uitkykpunt.  As sy beweeg sal hy haar dadelik sien.  Na ʼn uur kruip ʼn toetsvraestel in sy kop rond. Hy spring af en draf huis toe, vies dat hy van sy studies vergeet het.

****

“Kom matrieks. Wil niemand eers probeer antwoord nie?” vra meneer Bruwer twee dae later.  “Pandra?”

Marnus kyk links na haar.  Sy steek nooit haar hand op nie, maar kan altyd enige vraag antwoord.  Nie net die vraag nie, sy gee altyd meer inligting.  Namiddae het hy haar antwoorde gaan soek op die internet.  Dit is meestal nie in hul handboeke nie.  Hy hoor die vreemde terme wat sy nou gemaklik uitryg, asof dit algemene kennis is.

“Pragtig, Pandra. Hoe weet jy dit?  Dit is universiteitsvlak-kennis.”

“Ekstra opgelees, Meneer.  Die werk interesseer my.”

Die stem van die skoolhoof kerm krapperig oor die interkom: “Meneer Bruwer.  Kan Pandra Loom na my kantoor kom, asseblief?”

Marnus sien hoe die waaksaamheid deur haar lyf ril.

Sy kyk dadelik na hom.

“Dis oukei, gebeur met ons almal.”

“Wat wil hy hê?” vra sy sag.

“Jy’s slim en soet.  Kan nie ernstig wees nie.”

Sy glimlag flou voor sy opstaan en uitstap.

Marnus weet hy het haar nie oortuig nie.  Hoekom is sy bang?  Wat hy geniet is dat sy eerste by hom hulp soek.  Hulle kuier gereeld saam, voor skool en tydens pouses. By Pandra kan hy sit. Net bestaan, homself wees. Geen verwagtinge. Met of sonder gesprek. Sy het al baie oor hom uitgevra, sy drome.  Oor haarself antwoord sy altyd ontwykend.

Meneer Bruwer se stem roep hom terug na die werklikheid: “Marnus, jy is ver weg.”

“Jammer, Meneer.”

Die seuns kug en krap hul kele kamtig skoon.

“Waarvoor is dit?” vra meneer Bruwer geamuseerd.

“Weet Meneer nie?  Iemand het uiteindelik die dude gehak,” antwoord vriend Carel.

Marnus is bloedrooi in sy gesig.  “Nonsens!”

“Dit is so. Hy steur hom aan geen meisie nie. Pandra stap hier in, skielik het die ou ’n lewe.”

“Nou toe nou. Dis goeie nuus.” Die onderwyser knipoog vir Marnus.

“Ons gesels net soms, Meneer.”

“Mmm, baie soms,” merk Carel op.

“Los nou maar.  As hy nog meer bloos, is daar niks bloed vir die res van sy lyf nie.”

Marnus weet die kinders is nie verkeerd nie.  Soggens kan hy nie wag om Pandra te sien nie. Tydens periodes hou hy sy horlosie dop vir die aanbreek van pouse. Sy kop vlieg om toe Pandra instap. Hulle maak oogkontak. Sy is ontsteld, dit kan hy sien.  Haar oë se blou is nou donker kolle. “Wat’s fout?” vorm sy lippe die klanklose woorde.

Sy skud haar kop en kyk weg.

Die klok dui die wisseling na ʼn volgende klas aan.

“Pandra?” vra Marnus angstig.

“Ons kan pouse praat.”  Sy stap weg.

Hy staar haar agterna, swaai sy rugsak oor sy skouer.

****

“Kyk vir my,” is Marnus se eerste woorde toe sy pouse langs hom sit op die gras.

“Hoekom?”

“Wil die kleur van jou oë sien. Mm. Die blou is terug.“

Pandra glimlag.

Stilte bind hulle terwyl hulle eet.

“Wil jy iets weet?” vra sy later.

Marnus kyk op en glimlag. “Jy weet ek wil weet.”

“Dis Binnelandse Sake wat my gesoek het.”

“Wat?”

“Hulle wou my identiteitsboek sien.”

“Hoekom?”

“Ek weet nie.”

“Het jy hom gehad?”

“Ja.  Natuurlik.”

“Hoekom was jy so ontsteld?”

“Hulle wil ook my geboortesertifikaat sien?”

“Wie dra dit saam in ʼn beursie? Belaglik.  Hoekom soek hulle dit? Is jy nie ʼn Suid-Afrikaanse burger nie?”

“Ek sal die geboortesertifikaat more vir hulle vat.”

Sy antwoord nie sy vraag nie, besef Marnus.  Seker omdat dit ʼn simpel vraag is, want hoe kry sy in die eerste plek ʼn ID sonder ʼn geboortesertifikaat?

****

Die gehammer aan Marnus se kamerdeur laatmiddag laat hom vies omkyk.  Hy haal die oorfone af.

“Hoor jy my nie klop nie?” kla Conrad Zietsman.

“Pa is vroeg by die huis.”

“Hier’s manne by die voordeur.  Soek na jou.”

“Wie?  Rugby ouens?”

“Blykbaar van Binnelandse Sake.”

Marnus voel die halsband om sy nek.  “Wat soek hulle met my?”

“Wou nie sê nie. Ken jy iemand wat onwettig in die land is?”

“Nee, Pa.” Dit kom te skerp uit. Hy sien die frons op sy Pa se gesig.

“Toe, kry jouself daar onder.”

Marnus lig homself uit sy stoel, onseker of sy voete hom sal kan dra. Wat gaan aan in Pandra se lewe?  Hoekom fokus hulle nou op hom?  Om nie verder aandag te trek nie, wip hy die trappe af. “Middag.”

“Marnus Zietsman?”

Hy knik.

“Ken jy vir Pandra Loom?” vra die amptenaar met ‘n blas vel.

“Sy’s in ons skool. Ons het ʼn paar vakke saam.”

“En julle kuier voor skool en pouses.” Die nors rooikop loer oor sy bril as hy praat.

“As julle dit weet, hoekom vra julle of ek haar ken?”

“Jou ID asseblief.”

“Ek bring.”  Marnus hoor hoe sy pa probeer uitvis. Die manne is steeks om inligting te gee.  Hy is gou terug. “Hier’s my ID en my geboortesertifikaat.”

“Hoekom bring jy jou geboortesertifikaat?”  Rooikop gluur weer.

“Wonder ek ook, want my ID is ʼn bewys van my burgerskap en geboorte in die land. Ek bring maar, aangesien julle Pandra s’n wou hê.”

“Julle het lekker gesels sedert vanoggend,” verklaar meneer Blasvel.

“Hoekom nie?”  Hy hou nie van gesprek met meeste mense nie, maar sy mond kon nog nooit toe bly as hy iets wil sê nie.  “Ons het juis gewonder oor die belaglikheid van die geboortesertifikaat bewys as…”

Rooikop val hom in die rede: “Dit sal al wees. Jy moet jou vriende reg kies.”  Hy draai na Conrad.  “Dankie, meneer Zietsman.”

Marnus retireer stadig terwyl sy pa hul vergesel na die voordeur.  Hy beweeg sag by die kombuisdeur uit en nael om die hoek van die huis.

“Marnus!”

“Nie lus vir sy vrae nie.”  Hy stap vinnig weg.  “Moet self eers oor die storie wonder.”

****

Pandra kom stadig aangestap. “Goeie oggend,” groet sy vrolik.

Marnus glimlag. “Jy praat so netjies. Goeie dag, juffrou Loom,” terg hy.

“Hoekom het jy my nie gesê nie?”

Wat?” vra Marnus.

“Dat hulle ook by jou was.”

“Dis die eerste keer wat ek jou sien na hulle daar was.  Kom sit.”

“Ek dink ons… ek dink jy moet wegbly van my af.”

“Vir wat?”

“Nou is jy ook in die moeilikheid.”

“Ek is nie in die moeilikheid nie. Is jy?”

“Ek dink nie so nie. Ek het my geboortesertifikaat vanoggend vroeg gaan wys.”

“Nou ja? Wat’s die probleem?”

Pandra glimlag as sy hand op die muurtjie langs hom klap.  Sy neem die uitnodiging aan en sit.  “Ek wil nie aandag na jou toe trek nie.”

“Ek weet nie wat’s hulle saak nie.  Hulle het nie een nie.  Jy hoef nie te kommer oor my nie.”

“Wat het jou ouers gesê?”

“Pa het sy vragies gehad.  Ek het kans gehad om oor jou te spog.”

Pandra kyk op na hom.

Hy sien die geel strepies in elke oog.  Sonskyn strepies.  “Pandra, ek hou baie van jou, soos in báie!”  Hy beklemtoon die laaste gedeelte.

Pandra giggel.

“Jy is die eerste meisie…”

Sy val hom in die rede: “Ek hoor so.  Jy maak my skaam.”

“Waar hoor jy dit?”

“Die meisies het gesê.  Hulle wou weet hoe ek dit regkry.”

Marnus vat haar hand van haar skoot af.  “Dis vir my báie lekker om saam met jou te wees.”

Pandra wikkel haar hand los.  “Dis nie goed nie, Marnus.  Ons kom van verskillende wêrelde.  Einde van die jaar beweeg ons na verskillende wêrelde.”

“Die stad is nie so anders nie. Komaan Pandra. Jy kan nie stry nie. Ons twee…”

“Se siele praat met mekaar.”

“Sien jy? Kom ons geniet mekaar en kyk wat gebeur.“

“Ek hou ook báie van jou.” Sy terg hom met die ekstra klem op die woord baie.

Hy giggel en sit sy arm om haar skouer. Hy draai sy kop en fluister in haar oor: “Kom ons wees dan báie saam.”

****

Hy ken nie hierdie gevoel nie, maar hou daarvan om op wolke te loop.

“Jy lyk gelukkig, Boeta,” sê Selma Zietsman.

“Ek dink ek’s verlief, Ma.”

“Op die nuwe meisie?”

“Ons hou baie van mekaar.”

“Dis goed. Sal haar graag wil ontmoet. Wat het geword van die Binnelandse sake storie?”

“Sy het haar papiere ingegee, hulle is tevrede.”

Laataand neurie Marnus terwyl hy vir die dak lê en kyk. “Ek weet nog min van haar.”

****

Na skool die volgende dag, wag Marnus buite die klas.  “Mag ek saam met jou huis toe stap?”

“Ons bly buite die dorp,” antwoord Pandra.

“Ek weet. Sien jou altyd uitstap daardie kant toe.” Hy wys met sy duim in sy boom se rigting.

“Agtervolg jy my?”

“Natuurlik nie. Ek… van kleintyd het ek ‘n… jy gaan lag as ek sê.”

“Ek sal nie. Ek is ʼn ruimtewese, onthou. Niks is vreemd vir my nie.”

“Ek het ʼn boom-vriend. Vind my vrede in sy takke, vir jare al. Jy stap by my boom verby.”

Pandra staar na Marnus.  “ ʼn Boom-vriend?  Het jy my daar gesien?” Haar stem is sag.

“Ja. Sal jou wys. Kom.” Hy vat haar rugsak. “Het jy enigsins boeke hier in? Dis lig.”

“Mm, seker jou sterk spiere,” terg sy en druk aan sy bo-arm.

“Ha. Snaaks. Vertel van jou familie. Waar werk jou Pa?”

“Hy is ʼn dosent by die universiteit.”

“In die stad? Hoe kan julle dan hier bly?”

“Hy is besig met navorsing vir ʼn nuwe uitvindsel. Iets konfidensieels.”

“Dit verklaar jou breinkrag.”

Pandra antwoord nie.

“Jou Ma?”

“Sy is ʼn mediese dokter, in die stad.  Ek sien haar min.”

“Is hulle geskei?” vra Marnus sag.  Hy dink aan sy ouers.  Hy wens soms hulle wil eerder apart leef.  Die rusies irriteer hom by die dag meer.

“Nee.  Dit is ʼn tydelike reëling.  Hulle is gelukkig by mekaar.”

“Regtig?”

“Ja.  Is jou ouers nie gelukkig nie?”

Marnus kyk weg. “Nie so dat jy dit sal agterkom nie. Hoekom wissel jy van skool in jou matriekjaar?”

“Ek wou ʼn plattelandse ervaring opdoen.”

“Hier’s my boom.  Daardie takke… hulle is glad geskuur van my boude se sit.”

Pandra byt haar onderlip vas en streel oor die boom se bas.

Dis asof haar hand van kleur verander, merk Marnus op.

Sy trek haar hand vinnig terug.  “Ek kan nie glo dit is dieselfde…  Kom ons sit ʼn rukkie voor ek verder stap.”

“Dis oukei, Pandra. Ek sal saamloop tot by jul huis. Ek hou van stap.” Hy ignoreer die halwe sin.

“Ek wil tuis raak by jou boom-vriend. Jy kan ʼn ander keer saam stap.”

Marnus vee klippies op die grond weg.  “Sit met jou rug teen die boom.”

“Ek kyk liewer vir jou mooi boom.”  Nog voor sy klaar gepraat het, sit Pandra kruisbeen op die grond.

Albei hoor die naderende voertuig. Pandra steur haar nie daaraan nie, maar Marnus kyk op. Alhoewel hier ‘n pad na iewers heen lei, het hy nog nooit ‘n voertuig hier sien ry nie.

“Is dit dalk jou Pa wat jou soek?”

“Nee,” antwoord Pandra geamuseerd.  “My pa het nie ʼn voe… hy sal my nie soek nie.”

“Hy het nie ʼn wat nie?  Jy praat heeltyd halwe sinne.”

Die voertuig het stilgehou.  ʼn Gil blits deur die lug.  Die tieners spring op en kyk pad toe.  Ongeveer driehonderd meter van hulle, hardloop ʼn vrou in hulle rigting.  Na twee geweerskote verdwyn sy in die gras.

Die man wat geskiet het, skree: “Bitch, het gesê jy moet jou bek hou.  Jy wil nie hoor nie.”  Hy kyk op. “Wie is daar?” skree hy en hardloop na die boom se kant toe.

Pandra pluk Marnus agter die boom in met ʼn krag wat hom soos ʼn stuk lap laat voel.  “Omhels die boom, ek sal jou omhels.”  Haar hand teen die boom raak deursigtig.

“Pandra?”

“Doen dit net. Ek kan nie nou verduidelik nie.”

Marnus staan versteen, staar na haar hand.

“Jy raak weg.  Wat…”

“Luister na haar,” kom ʼn dowwe diep stem uit die boomstam.

Marnus kyk verward rond.

Pandra gryp hom voor haar vas, dwing sy arms om die boomstam, haar lyf styf teen syne.

Sy wang druk teen die stam.  Hy hou vir ʼn oomblik op asemhaal as sy eie lyf onsigbaar raak.  “Wat gaan aan?  Wie’t gepraat?” vra Marnus sag.

“Stil,” kom die dowwe diep stem uit die boombas.

“Wie was hier?  Kom uit, anders skiet ek julle vrek.  Ek het julle gesien.”

Marnus hoor die kras stem van die moordenaar.  Die man is naby.  Hy sien hom verby hardloop met die skietding in sy hand, al swetsend en dreigend.

“Julle was hier, by hierdie boom.”

Marnus herken hom nou.  ʼn Sekuriteitswag by die gebou waar sy pa bankbestuurder is.  Die moordenaar kyk op in die boom, vloek as hy niks sien nie.

“Ek ken hom,” fluister Marnus toe die man ʼn paar treë weg is.

“Stil,” hoor hy Pandra agter sy rug.

Marnus probeer homself loswikkel.

“Staan net stil.”  Sy pers die woorde deur haar lippe.

“Ek wil sien.  Ons sal polisie toe moet gaan, moet weet wat hy nou doen.”

“Hy gaan jou sien.  Staan stil.”

“Dit is veilig, prima Pandramelza.  Hy kan versigtig kyk.”

Marnus voel hoe sy skietgee, net genoeg dat sy kop om die stam kan kyk.  Die moordenaar sleep die liggaam kar toe.  Eers toe die voertuig wegtrek, gee Pandra pad en hulle raak sigbaar.

“Sê vir my ek het gedroom.  Wat het hier gebeur?”

“Ek kan nie betrokke raak nie, Marnus.  Ek kan nie getuig nie.”

“Ek gee nie om oor getuig nie!  Maar jy… ons… jy het ons onsigbaar gemaak teen ‘n…”  Marnus kyk na die boom, gooi sy hande in die lug.  “Teen ʼn boom wat kan praat!  My boom kan praat!”

Pandra se mond gaan ʼn paar keer oop voor die woorde uitkom: “Ek kon nie anders nie.  As ek enigsins betrokke raak, is ek dood.  My hele gesin.  Ons hele gemeenskap.  Dit sal alles my skuld wees.”

Sy stemtoon is harder as wat hy bedoel.  “Oukei.  Ek sal alleen polisie toe gaan.”  Dan praat hy sagter: “Verduidelik wat hier gebeur het.”

“Ek is bang jy vertel vir iemand.”

“Ek sal nie praat nie.  Niemand sal my in elk geval glo nie.  Ek wil net verstaan.  As ek nie verstaan nie, sal ek nie rus totdat ek weet wat aangaan nie.”

“Ek ken die kind, prima Pandramelza.  Sy hart is goed.”

Marnus kyk om.  “Dankie, Boom.”  Hy kyk terug na Pandra.  “Hel.  Ek praat met ʼn boom.”

Sy giggel en die fyn sonskynstrepies skitter weer.  “Ek sal my verhaal met jou deel, maar nie nou nie.  Jy moet by veiligheid uitkom.”

Marnus maak nie aanstaltes om te loop nie.

Sy haal diep asem.  “Ek kom van ʼn wêreld waarvan feitlik niemand weet nie.  Zinbali, jou spesiale boom, is die poort tussen ons gemeenskap en die wêreld.  My pa is ons leier.  Ek is sy opvolger.  Ek het daarop aangedring om ʼn ruk hier skool te gaan sodat ek iets van die wêreld beleef.”

Marnus staar na haar.

“Dit is al vir nou. Ek sal die res later vertel,” sê sy.

Hy staan steeds stokstyf.

“Marnus, hoor jy my?  Jy moet huis toe gaan.”

Hy draai om en kyk na die boom.  “Is hier iemand in die boom?  Hoe kan ʼn boom praat?”

“Jy het gehoor wat prima Pandramelza sê, Marnus.  Gaan eers huis toe.  Ons sal weer gesels.”

“Ek wag daarvoor,” sê Marnus. Hy skud sy kop. “Ek praat met ʼn boom.“  Hy gee ʼn tree weg en draai na Pandra.  “Wat het jy gesê van julle veiligheid?”

“Niemand mag van my herkoms weet nie, Marnus.  As jy vir die polisie sê ek was hier, is dit verby met my, met ons almal.  Jy sal my nooit weer sien nie.”

“Ek sal nie praat nie.”  Hy sug.  “Goed, ek moet by my pa uitkom.”  Hy draai weer terug nadat hy ʼn tree weg was.  “Ek wil alles weet.  Alles!”

Sy vryf saggies oor sy hand wat hare vasgegryp het.  “Ek sal verduidelik.  Gaan nou.”

****

“Weet jy iets van Pandra af, Marnus?” vra meneer Bruwer.

“Nee, Meneer.  Het drie dae terug laas met haar gepraat.”

“SMS julle nie?” vra Carel.

Meneer Bruwer red hom van ʼn antwoord: “Die kantoor het ook gebel, kry geen reaksie nie.  Kom ons gaan aan.  Werk aan die vraag dat ons dit kan bespreek voor julle loop.”

Marnus sluk swaar.  Dis asof sy keel seer is.  Is Pandra se lewe in gevaar?  Het iets met hulle gebeur, wie hulle ookal is?  Watse poort is die boom, na waarheen?  As die boom net met hom wil praat.  Vir twee middae het hy daar gesit en ʼn geselsie probeer aanknoop, soos ʼn mal mens.  Sy hand het sigbaar gebly toe hy aan die stam raak.  Pandra is klaarblyklik die skakel tot wat ookal daardie middag gebeur het.

Meneer Bruwer se stem verbreek sy gedagtes met sy stap vir stap verduideliking van die wiskunde som.  Marnus maak asof hy oplet.  Eintlik skryf hy die stappe neer wat op die swartbord aangebring word.  Wiskunde is gelukkig een van sy sterk vakke.  Dis net Pandra wat vir hom ore aansit.  Met al die kleiner klastoetse het sy elke keer volpunte gekry.  Slim meisiekind.  Hy glimlag weemoedig.  Gaan sy weer terugkom?  Of gaan sy hom op die platteland los met al die onbeantwoorde vrae?  Marnus voel die vibrasie van sy selfoon, wat aandui dat daar ʼn boodskap is.  Hy waag dit nie om nou te kyk nie.  Kan dit uiteindelik Pandra wees?

“Dankie tog,” fluister hy toe die klok tien minute later lui.  Hierdie keer prop hy sy boeke in die tas en wurm by almal verby buite toe.  Om die volgende klas se hoek kyk hy na die boodskap op sy foon.  Teleurgesteld dat dit sy pa is, begin hy lees.  “Dêmmit.  Hoe kry die polisie dit reg?”  Wees versigtig en veilig, sê die boodskap.  Die dorp is klein.  Die moordenaar sal weet waar hulle bly.  Eintlik is hulle al drie se lewens in gevaar.  Gelukkig is sy Ma by die werk.  Op hierdie stadium is die boom veiliger, besluit Marnus.  Sonder haas stap hy die veld in.

“Hallo, Boom.  Jy praat seker nie terug nie, want ek het jou naam vergeet.  Ek hoop eintlik Pandra kom.” Hy haal diep asem en lê met sy kop teen die stam.  “As jy net kan sê of sy veilig is.  Dis al wat ek wil weet.”  Stilbly is ook ʼn antwoord, sê sy ma altyd.  Hy raak vaak van die stilte om hom.

Hoe lank hy ingesluimer het, weet hy nie.  Marnus raak bewus van iemand langs hom.  Sy oë gaan stadig oop.  “Pandra!”  Hy omhels haar.  “Ek was bekommerd,” fluister hy in haar hare.

“Goeie dag vir jou ook,” sê sy en giggel.  “Jy kan my nou weer los.”

“Ek wil nie,” antwoord Marnus terwyl hy sy greep stadig verslap.  “Kyk vir my.”

“Marnus, moenie.”  Sy maak tog oogkontak.

“Helder blou.  Sonskyn.  Mm.  Jy is reg.”

“Wat het met jou gebeur?  Die moord?”

“Die polisie het hom gevang, tot vanoggend toe.  Pa het laat weet die maniak het ontsnap.”

“Jy behoort nie hier te sit nie!”  Sy is ontsteld.

“Hy sal nie terugkom na die moordtoneel toe nie.  Dit sal dom wees.”

Sy knik tevrede. “Zinbali sê jy het elke dag kom gesels.”

“Probéér gesels.  Vriend Zinbali was nie spraaksaam nie.  Hallo Zinbali.”

“Hallo Marnus,” kom die sagte stem uit die boom.

Marnus skud sy kop. “Hel, dit bly vreemd.  Praat jy nou omdat Pandra hier is?  Of was jy steeks omdat ek jou naam vergeet het.”

“Wie weet?” antwoord Zinbali.

“Gmf.  Jy maak dit nie maklik vir my nie, né?” praat hy na die boom se kant toe.

“Ek het jou sms’e gekry,” sê Pandra.

“Maar nie terug geantwoord nie.”  Marnus vat haar hand.  “Waar bly julle?”

“Ek kan nie vir jou sê onder die grond of in die lug nie.  Dit is net ʼn ander ruimte.”

“Kan jy my eendag saamvat, na waar julle bly?”

“Nooit!  My pa kry ʼn oorval.”

“As ons verhouding aangaan, moet hy dit tog eendag toelaat.”

Sy wikkel haar hand los uit syne.  “Dit is wat ek probeer keer het.  Ons verhouding kan nie aangaan nie.  Dit is onmoontlik.”

“Niks in die lewe is onmoontlik nie, Pandra.  Zinbali is die bewys van ʼn konneksie tussen ons. Hoekom sou juis hierdie boom my spesiale plek geword het van kleins af?”

“Die hele ons-ding, ís onmoontlik.  Glo my.”

Marnus skud sy kop stadig heen en weer.  Hy besluit om dit eers te los.  “Die Binnelandse Sake manne?  Was dit ʼn gevaar vir julle?”

“Ja.  ʼn Paar rebelle het ʼn paar jaar terug ʼn manier gevind om deur te kom na julle toe.  Die regering het agtergekom hul dokumentasie is nie eg nie.  Dat hulle nie hier gebore is nie.”  Pandra teken patroontjies in die sand.  “Binnelandse Sake is kriewelrig oor skielike verskynings, soos ek by die skool.”

“Is jou ID nagemaak?”

Pandra knik.

“Waar kry jy dit?”

“Ons spesie is nogal intelligent.  Daar is min dinge wat ons nie kan regkry nie.”

“Daarom het jy ook universiteitsvlak-kennis.”

“Ek weet nie of ek nog skool gaan bywoon nie, Marnus.”

“Ag nee!”

Sy kyk op. “Dalk kan ons soms kuier, hier by Zinbali.  As jy wil.”

“Natuurlik wil ek.”

“Ons gaan net vriende bly.  Moenie meer verwag nie.”

“Ons is klaar meer as net vriende, Pandra.  Jy weet dit.”

‘n Voertuig in die pad laat hulle opkyk na mekaar.  Toe hy stop, spring albei op. Marnus loer om Zinbali.  “Dis hy, Pandra.  Gaan huis toe.  Dadelik.”

“Wat van jou?”

“Marnus is reg, prima Pandramelza.  Stap deur die poort.”

“Wat van Marnus?  Sal jy hom beskerm?”

“Ek sal. Gou.  Die poort is oop.”

“Sit jou arms om Zinbali, Marnus.  Zinbali, jy het beloof.”

“Jy mors tyd, Prima. Kom.”

Pandra verdwyn.

Marnus staan styf teen Zinbali.  Hy bly sigbaar.  “Dit werk nie.”

“Prima, kom terug,” roep die boom ontsteld.

Marnus kyk benoud rond.  “Ek gaan hardloop!”

‘n Skoot klap toe Marnus van die boom weg beweeg.

“Het jy gedink jy gaan wegkom?” skree die kras stem van ver.

Marnus val plat teen Zinbali.  Sy bo-arm brand en bloed sypel deur sy hemp.

Twee hande kry sy lyf beet.  Hy word blitsig in Zinbali ingetrek.

“Moenie wegkruip nie, snotkop.  Jou bek was groot.”

Dit is die laaste wat Marnus hoor, saam met sirenes ver in die agtergrond.

“Wat het gebeur?” vra Pandra.

“Ek weet nie, prima Pandramelza. Hy wou nie onsigbaar raak sonder jou nie.”

Dit klink vir Marnus of Pandra en Zinbali in ʼn lugleegte praat.  Hy kyk rond.  “Waar is ons?”  Dit is klinies skoon.  Hy staar by Pandra verby, af in ʼn lang gang.  Aan die einde daarvan staan ʼn man.  Hy kyk na hulle kant toe.

“Jy is in my leefwêreld.  Ek kon jou nie los nie,” antwoord sy.

Hy glimlag.  “Sien, niks is onmoontlik nie.  Ek kan asemhaal hier waar jy bly.”

“Moenie so opgewonde wees nie.  My pa kan my onthef as opvolger as gevolg van wat ek gedoen het.”

Die glimlag verdwyn van sy gesig af.  “Is dit jou pa?” vra hy en draai sy kop na die gang se kant toe.

Pandra kyk om en weer terug.  Sy knik.

“Wat nou?” vra Marnus en probeer regop kom. Hy kreun.

“Ek weet eerlik nie.”  Haar kop hang.  “Ek weet gladnie.”

“Wat sou jy gedoen het as jy reeds by jou Pa oorgeneem het?”

Pandra loer vir hom en glimlag.  “Ek hou baie van jou. Báie.”

Marnus knipoog.

“Zinbali, stuur ‘n boodskap na medies. Ek soek draers en my ma.”

Marnus hoor Zinbali in ʼn vreemde taal praat.  Hy streel oor Pandra se wang.  “Jy het my gered.  Dankie.”

Wat die vrou sê, weet hy nie.  Hy hoor die ontsteltenis in haar stem.  Hoe het sy so vinnig hier gekom?  Sy het verseker nie gang-langs gestap nie.

“Ons kommunikeer nou in Afrikaans, Moeder.  Marnus, ontmoet my ma, primamed Konisan.  Moeder, dit is Marnus waarvan ek julle vertel het.”

Marnus het Konisan dopgehou, maar Pandra se laaste woorde laat hom verbaas na haar kyk. Sy het sowaar hulle verhouding met haar ouers bespreek?  Dit is goeie nuus.  Hy beur orent en steek sy hand uit.  “Goeiemiddag, Tannie… ee... Mevrou.”

Pandra giggel. “Ons gebruik nie die terme Tannie of Mevrou nie.  Jy kan Moeder aanspreek as Primamed.”

“Middag, Marnus.  Ek gaan jou wond verpleeg.  Dan moet jy terugkeer na jou wêreld.”  Sy glimlag nie.  Praat saaklik.

“Verskoon, Moeder.  Ek sal self verdere reëlings tref.  Verpleeg asseblief die wond.  Ek sal solank met Vader kommunikeer.”

Marnus se oë rek. As hy so met sy ma sou praat, klap sy hom oor sy kop. Aan die ander kant, as sy Ma sou inmeng waar hy eendag in sy werksveld is, sou hy ook so gereageer het.  Mooi so, Pandra, dink hy trots.  Sy oë neem soveel moontlik waar wanneer hulle gang-af beweeg.  Niemand raak aan hom nie.  Weerskante van hom is die draers; een se hand uitgesteek tot onder sy voete, die ander onder sy boude.  Primamed se hande onder sy kop. “Ek sweef in die lug,” fluister hy verwonderd.  Kort daarna word hy sag neergelê op ʼn glasblad.  Die figure om hom raak stelselmatig dowwer.

****

“Marnus, word wakker.”  Pandra vryf oor sy arm.

Hy glimlag en maak sy oë stadig oop.

“Hoe voel jou arm?”

“Ek weet nie.  Dis net opwindend om by jou te wees.”  Marnus se kop ruk na die ander kant van die glasblad as iemand keel skoonmaak.  ʼn Bleek gesig vol plooie kyk af na hom.  Outoriteit straal uit hom uit.  Marnus probeer weer orent kom.

“Ontmoet my vader, Marnus.  Jy kan hom aanspreek as Opperprim.”

“Goeie middag, Opperprim.  Baie dankie vir die beskerming en mediese versorging.”

“Middag Marnus.  Wat Pandramelza vandag gedoen het, is ʼn groot waagstuk vir ons. Ek vertrou my dogter se oordeel aangaande jou, veral nadat jy haar beskerm het tydens die moord episode.”

“Ek sal onder alle omstandighede julle bestaan beskerm, Opperprim.”

“Dankie.  Daarom is dit noodsaaklik dat jy so gou moontlik teruggaan voor jou afwesigheid vrae ontlok.”

“Ek verstaan.  Pandra het my vandag gered.  Ek vra vriendelik dat u haar nie vir ‘n goeie daad sal verkwalik nie.”

Pandra giggel.  “Hy praat nie altyd so netjies nie, Vader.”  Sy kyk vir haar pa. “Dit beteken hy het baie respek vir u.”

Pandra en Marnus maak oogkontak.  Marnus weet haar pa hou hulle dop.  Hy gee nie om nie.  Kan die slim man die konneksie tussen hulle raaksien?

“Jy moet nou gaan,” sê Pandra.

“Ek het een probleem.  Hoe verklaar ek die versorging van my wond?”

“Moeder het die koeël verwyder.  Die interne skade is ook herstel.  Die twee steke sal self oplos sodra die hegtingsproses van die wond voltooi is.  Jy moet ons pleister so gou moontlik vervang met een van jul eie.  Ons het vinnig jou hemp laat skoonmaak en herstel.”

“Dankie.”

“Verskoon my, Marnus.  Dit was gaaf om jou te ontmoet.”

Marnus steek sy hand uit om te groet, maar Opperprim is reeds weg.  Hy kyk verward rond.  Het hy gestap of net weggesink in die vloer?  “Ek wou hom nog amptelik vra of…”

“Of wat?” vra Pandra.

“Of ek gereeld by jou mag kuier, deel van jou lewe mag bly.”

“Hy sou dit as voorbarig beskou by ‘n eerste ontmoeting.  Buitendien, dit is my besluit.”

“Mag ek dan?”

“Nie nou nie, Marnus. Jy moet hier uitkom.”

“Ek is bang jy verdwyn weer.”

“Ek sal weer kontak maak.”

“Ek hou nie van jou tydsaamheid nie.”

“Daar was redes voor.  Kom.”

“Hoekom voel dit of mens vinniger loop hier by julle?  Die gang is lank maar binne sekondes is jy aan die ander punt.”

“Dis hoe dit hier is.  Zinbali, Marnus is gereed om terug te keer.  Is daar beweging buite?”

“Geen beweging, prima Pandramelza.  Bietjie bloed op die grond wat julle moet verwyder.”

Pandra vat Marnus se hand en hulle beweeg deur die poort.  Marnus sien die bloedkol en gooi grond daaroor.  Hy kom regop en trek Pandra tot teen hom.  “Toe ontmoet ek jou ouers nog voor jy myne ontmoet.  Ek het jou gesê, niks is onmoontlik nie.”

Pandra sit haar arms om sy lyf.  “Moenie opgewonde raak nie.”

“Ek is opgewonde.  Kan nie help nie.”

Sy tree terug.

“Sien ek jou more by die skool?”

“Ek weet nie.  Ek en my Pa het nou ʼn vergadering.”

“Oor my?”

Sy knik.

“As jy ons ʼn kans gee, sal jou Pa instem?”

“Ek weet nie.  Ons sal weer gesels.”

Marnus gryp haar hand toe sy wil omdraai.  “Ek wil jou nie verloor nie.”

“Ek kan niks beloof nie.  Gee my kans om dinge uit te werk.”

****

Tevergeefs wag Marnus vroeg die volgende oggend vir Pandra.  “Dêmmit,” mompel hy sag.  Die dag is lank, te lank.  Na skool wag hy by die boom.  “Zinbali, praat met my, asseblief.”

Zinbali antwoord nie.

Na die tweede dag voel hy baie mismoedig.  “Gaan ek vir die res van my lewe so bedel vir tyd saam met Pandra?”

“Wees geduldig, Marnus.”

Marnus spring op. “Dankie, Zinbali!  Gesels nog, asseblief.  Ek haat jou stilstuipe.”

“Wat is stilstuipe?”

“Dis jy wat my nie antwoord as ek wil praat nie.”

“Jy moet rustig wees, Marnus.  Prima is in ʼn baie moeilike situasie.  Baie opsies om te oorweeg.  Sy is nog jonk.”

“Ek sal wag.  Elke middag.  Vra haar net om asseblief met my te kom praat.”

“Sy het beloof sy sal.”

****

Pandra is reeds by die boom toe Marnus die volgende dag aangestap kom. Hy gooi sy sak neer en hardloop na haar toe.

Sy glimlag skaam vir sy opgewondenheid, laat hom toe om haar vas te hou.

“Jy moor my, Pandra.”

“Hoekom?”

“Herder mens!  Dit was twee dae se leef sonder jou.”

“Kan ons iets gaan drink, in die dorp?” vra Pandra.

“My huis.”  Marnus vat haar hand.  “Hoe gaan dit daar… in julle gemeenskap?”

“Laat ons eers wegstap.  Zinbali hoef nie te weet wat ek en my pa bespreek het nie.”

“Vertel my bietjie meer.  Wat doen julle elke dag?”

“Ons leef in ʼn streng roetine.  Doen baie dinge as gemeenskap saam.  Daar is byvoorbeeld net een eetplek.”

“Hoekom?”

“Sodat almal dieselfde dieet volg.  Organiese, gesonde kos.”

“Werk?  Skool?”

“Tot op tienjarige ouderdom is kinders in ‘n… iets soos ʼn skoolsentrum.  Die sentrale opleidingstelsel word beheer deur die hoofraam.  Die breingolwe van elke leerder word gemeet en ontleed om te bepaal wat sy sterk en swak punte is.  Daarvolgens word toegespitse vaardighede oorgedra by wyse van ʼn Hologram stelsel.  Na die tiende jaar word die sterk punte van elke leerder verder ontwikkel in ʼn spesifieke rigting met behulp van virtuele realiteit.  Jy kan dit gespesialiseerde indiensopleiding noem.”

“Op tien?  Dis jonk.  Ons handboeke, swartbord en onnie’s is dan baie oudmodies vir julle.”

Pandra giggel.  “Ja, nogal.  Aan die begin het dit gevoel of ek in ʼn outydse film instap.”

“Sport?  Ontspanning?”

“Ons het ʼn gimnasium en swembad.  Die tegnologie is baie gekompliseerd.  Elke oefenapparaat word gekoppel aan die liggaam en bepaal watter spiere en liggaamsdele oefening benodig.  Ons het geen kontaksport nie.  Pa het onlangs ʼn woud laat inrig.  Dis iets uit julle wêreld wat hy reken mense laat ontspan; om te stap in die natuur en na diere te kyk.  Daarmee saam het ons water-massering in aqua-baddens, om liggaam en gees te laat ontspan.  Legkaarte bou, skaak en lees… dit is deel van die opvoedingsprogram.  Alles digitaal.  Skaak- en legkaartstukke word met denke geskuif.”

“Sjoe.  Alles klink so gereguleerd.  Doen julle niks wat die adrenalien bietjie stoot nie?”

“Soos wanneer ons vlerk-pakke aantrek en soos voëls vlieg?”

Marnus trippel agteruit van opgewondenheid.  “Regtig?”

“Almal leer dit doen.  Dis goed vir ruimtelike oriëntasie.”

Marnus skud sy kop. “Steeds omdat daar ‘n rede is.  Doen julle niks net omdat dit lekker is nie?”

Pandra draai haar kop skeef en dink.  “Ek… weet nie.  Ons aanvaar dat alle aktiwiteite opbouend is vir ons bestaan.”

“Ek wens julle kon tussen ons leef.  Dit kan opwindend wees.”

“Ons verskil te veel.  Ons hele bestaan is gerig op hiperintelligente navorsingsprojekte.  Meeste daarvan konfidensieel.  Een waaroor ek opgewonde is, is om die emosie in plante te bepaal in tye van gunstige of ongunstige weersomstandighede.  As ʼn blom byvoorbeeld afgepluk word, wat beleef die plant?”

“Hel, hoe kry julle dit reg?”  Marnus sien die trots op haar gesig.  “Hoekom kan julle dit nie tussen ons doen nie.  Ons dommes kan mos by julle leer.”

“Hoekom praat jy so?” vra sy vies.

“Dis nie goor bedoel nie.  Julle het duidelik sterker brein-kapasiteit.  Dit kan ons motiveer om buite die boks te dink.”

“Julle gemaklikheid sal ons moeilik hier laat aanpas, ons is erg gedissiplineerd.  Ons het ook ons eie hiërargiese stelsel.  Vir die ouer garde is dit belangrik dat ons bloedlyn suiwer bly.”

Marnus los haar hand, hy loop nie verder nie.

Pandra draai om.  Hulle kyk lank in mekaar se oë.

“Julle bloedlyn mag nie besmet word met laer intelligensie nie.”

Sy kyk weg en byt op haar lip.

Marnus skud sy kop in ongeloof.  Hy trek sy asem diep in voor hy skor fluister.  “Daar’s ons huis.  Kom.”

Dit is stil tussen hulle.

Hy gooi vrugtesap in.  “Moet ek raai?  Jy kom nie weer skool toe nie en jou Pa het ons verhouding verbied.”

“Dit is nie so eenvoudig nie.”

“Jy ontken dit nie.  Jinne Pandra.  Ek het al planne bedink vir ‘n toekoms saam met jou.  Ek weet jy is my sielsmaat.  Jy weet dit ook.  Ek wil gaan swot volgende jaar.  Daarna bou ek ʼn huis by Zinbali.  Ons bly daar en leef in beide wêrelde.”  Hy gee ʼn ligte snork.  “Een probleem natuurlik… die bloedlyn.  Ons kinders sal te dom wees om by julle skool te gaan.”

“Stop dit, Marnus,” keer sy stram.

“Ek is ernstig oor jou, Pandra.  Dis baie moeilik om deur die dag te kom sonder dat ek net in jou teenwoordigheid was.  Ek kry brandstof by jou.”

Sy frons en glimlag dan.

“Waaroor het jy en jou pa gepraat?”

“Meestal oor my toekoms met of sonder jou.  By ons kan ons nie kies met wie ons wil trou nie.  Daar is klaar iemand vir my gekies.  ʼn Hoogs intelligente, dertigjarige man.”

“So oud!”  Hy glimlag.  “Het hy darem spiere?”

Sy klits hom op sy arm.  “Ek het in opstand begin kom teen hierdie man, reeds daardie eerste dag na ek jou gesien het.  Ek het my ouers van jou begin vertel.  Wat jy gedoen het toe jy geskiet is, om my in my gesagsposisie in te druk dat ek met selfvertroue ʼn besluit kan neem… ek het vir hulle gesê dis die tipe man wat jy is.  Seker in jouself.  Daarom sal ek jou nie bedreig nie.  Maar,” sy glimlag skeef, “jy sal ook nie dat ek jou beheer nie.”

“Hulle reaksie?”

Pandra frommel haar neus op.

“So gedink.  Nie goed genoeg nie.”

“Daar is baie komplikasies, Marnus.  Meer van ons mense gaan in opstand kom en dieselfde wil doen, as ek ʼn wêreldling as lewensmaat kies.”

“Dalk is dit ʼn goeie brug tussen ons wêrelde?”

“Dink jy vir een oomblik die leiers gaan daarmee tevrede wees?”

“Seker nie.  Die bloedlyn!  Wat nou?”

“Nou leef jy en slaag jou matriek.  Ek gaan voort met onderhandelinge in my wêreld.  Al is daar nie ʼn toekoms vir ons nie, wil ek hê ons mense moet self keuses kan maak ten opsigte van huweliksmaats en beroepe.”

Pandra kuier lank.  Sy stap saam na Marnus se kamer en vra uit oor sy bekers, toekennings, sy kinderdae speelgoed.

“Ek moet terug,” sê sy later.

“Kan jy nie bly nie?  Ma sal vir jou klere leen.”

Sy lag.  “Is jy laf?”

Hulle stap met die trappe af.

“Ek weet nooit of ek jou weer gaan sien nie, Pandra.  Hierdie onsekerheid knibbel my stukkend.”

“Dis nie so erg nie.”

Marnus trek haar vas teen hom by die voordeur.  “Ek is ernstig oor ons toekoms.  Sê vir jou Pa ek sal ‘n IK toets aflê. Ek’s nie te dom nie.”

“Ek weet jy is nie.”  Sy lê teen sy bors, totdat die voordeur oopgaan.

“Hallo, Ma. Ontmoet vir Pandra.”

“Aha!  Die meisie wat my seun se voete onder hom uitgeslaan het.”

“Goeiemiddag, Mevrou.”

“Noem haar Tannie Selma,” fluister Marnus in Pandra se oor.

“Die mooiste oë.  Marnus het my vertel van jou besonderse kykers.”

Pandra glimlag skaam en kyk na Marnus.  “Ons kan mekaar nogal middeldeur kyk.”

“Gaan jy saam met ons eet vanaand?”

“Nee dankie, Tannie.  My ouers verwag my.”

“Volgende keer kuier jy langer, hoor?”

Hulle praat nie veel nie, loop hand aan hand terug.  ʼn Ent van Zinbali draai Marnus haar teen hom vas en soen haar.  “Moenie my net los nie, asseblief.  Onthou wat ek gesê het, niks is onmoontlik nie.”

Pandra soen hom terug.  “Jy het my geleer om liefde te voel.”

“Kom ons leer dit vir jou hele gemeenskap.  Hulle gaan baie gelukkiger mense wees.”

Langs Zinbali hou hy haar weer teen hom vas. “Wil jou nie los nie.”

“Opperprim vra jy moet by hom aanmeld, prima Pandramelza.”

“Ai Zinbali.  Jy bederf alles.”  Pandra sug.

“Jy’t omtrent ʼn tongknoper-naam.  En dit vloei so maklik oor Zinbali se lippe.”  Marnus kyk skeef na die boom toe.  “Het jy lippe, Zinbali?”

‘n Sagte lag kom van Zinbali se binnekant.

“Jy sit lag in ons almal se lewens in, besef jy dit?” vra Pandra.

“Onthou dit en kom terug na my toe.”

****

Pandra maak nie weer haar verskyning nie.  Na ‘n week stap Marnus oudergewoonte veld toe,  maar kry nie sy boom nie. “Dis onmoontlik.  Ek kon tog nie verdwaal het nie?”  Ontsteld stap hy rond, soek ander bakens.  Rasend hardloop hy dorp toe en terug, vir ingeval hy ʼn verkeerde roete geneem het.  Hy soek rond, roep na Zinbali.  Dit is reeds donker toe hy terugstap, sy oë rooi gehuil.

“Waar was jy?” vra Selma ontsteld.

“Pandra is weg, Ma. Ek weet nie of ek haar weer gaan sien nie.”

“Wie is Pandra?”

Marnus se kop ruk op. “Wat bedoel ma met wie is Pandra?  Sy was hier, in die huis.”

“Ek was seker nie hier nie.”

“Ma!  Jy’t met haar gepraat.  Kyk, hier’s ʼn foto van haar op my foon.”  Hy soek die bewys terwyl Selma toekyk. “Dit was hier.  Dêmmit.  Wie het dit uitgevee?”  Sy bene sukkel met die trappe op, sy vingers steeds op soek na die foto.

Die slaap kom nie.  “Ek sal more weer soek.  Zinbali kan nie net verdwyn nie.”

Alle navrae na Pandra lei tot niks. Niemand by die skool is bewus van die meisie met die helder blou oë nie. “Is ek besig om mal te raak?  Hoe kan sy skielik nie bestaan nie?  Pandra, waar is jy?”

Marnus skop die klippies in die pad.  Sy hemp hang uit.  “Ek het nog nooit so alleen gevoel nie.”  ʼn Plekkie op sy bo-arm jeuk en hy krap ingedagte.  Sy mond word droog.  Hy pluk sy hempsmou op. Die bewys van ʼn geneesde snytjie en merkies van die steke, laat hom lighoofdig voel.

DIE EINDE

Terug Terug na bo